Ek try ten minste…

En hier sit ek. Vyf en dertig duisend voet in die lug. Met my size 42 boude wat net-net in die nou vliegtuigstoeltjies in gesqueeze pas. Ek voel effens ongemaklik. Die vorige keer toe ek gevlieg het, het my boude heel gemaklik hier ingepas, en nou sit ek amper wall-to-wall. Snaaks hoe gou mens kan gewig optel in so ‘n kort tydjie. Snaaks hoe dit jou eers begin pla wanneer jy ongemaklik raak met jouself.

Ek was nog altyd een om myself te aanvaar net soos ek is. Om my ekstra kurwes te geniet. Om my kos en lekkernye te geniet. Maar toe… een dag… bars die bom hier neffens my en ruk my uit my eie beswyming. So kan ek nie aangaan nie. Glad nie. Want hierdie keer is my eie gesondheid op die spel.

Kom ek begin voor.

Daar was ‘n tyd in my lewe wat ek aan die maarderige kant was. Nou nie kierietjies maar nie, maar net reg. Kurwes op die regte plekke, gelukkig met myself. En toe… ja, toe draai die wiel hopeloos te vinnig en hel ek na die teenoorgestelde kant. Vir maande lank was ek siek, was ek op antibiotika en kortisoon en al die ander slegte goed wat mens moet drink met chroniese bronchitus. En vanselfsprekend het die kilo’s een vir een, en baie suutjies, weer om my lyf kom pak. Toe het ek dit nog nie agtergekom nie. Toe het ek mos ‘n verskoning gehad. ‘n Verskoning om nie te oefen nie, om te eet wat ek wil, en om net gesond te raak. Intussen was daar ‘n kortstondige verhouding, baie opoffering, trane en hartseer, druk by die werk, teleurstellings, ‘n break-up wat heluit seer gemaak het en my ouma se afsterwe. Nou ja, dit is ook nie ‘n goeie breeding ground vir gewingsverlies nie. Eerder ‘n bakoond van ekstra kilos en kurwes wat mens eerder sonder kan klaar kom.

En, soos elke nuwe jaar, het ek mos die nuwejaarsvoorneme om hierdie jaar gewig te verloor. En ek was adament. Hierdie jaar gaan ek dit doen. Moet ek dit doen. En net soos die duiwel dit wil he, toe word my wereld nog ‘n keer of drie onderstebo geklap. Met skaars drie weke die nuwe jaar in, word ek baie diplomaties ingelig ek trek al weer. Potch toe. En ek het net ‘n week om al die nodige reelings te tref. So asof hulle my nie kans wil gee om daaroor te dink nie. STRES! STRESSED OUT! CRAZY!!! Dis presies hoe ek gevoel het. Emosionele eetgewoontes is ook iets wat ek bitter moeilik kan bestry. Juis omdat ek dit wat ek voel probeer weg eet.

In Potch aangeland, kom die slegte-nuus-koeels soos ‘n haelstorm op my af. Die agent by wie ek my plek huur, se vir my op die eerste aand van die meisie wat voor my in die woonstel gebly het. Verkrag in haar woonstel. Inbrake, damage to property, en en en… Ek het haar net so gekyk. Skok soos ‘n maalkolk in my binneste. Rebellie wat by my keel wil uitspring. Ek wil nie hier wees nie. Ek is geboelie om hierheen te kom, en nou dit! En wat doen ek? Ek eet. Na ek in trane uitgebars het in John Dory’s, eet ek ‘n hele platter seekos op. Alleen. En ek voel steeds nie beter nie. Snaaks, ne? Mens dink dit gaan help, maar dit doen nie. Miskien vir ‘n paar oomblikke, maar daarna? Wat dan?

Hier sit ek vandag. Dit is paasnaweek. En ek is alleen. In Potch. My mense kom wel more, maar dit is ‘n ander storie. My eerste paar maande in Potch was allesbehalwe maklik. Nog ‘n mislukte verhouding, middeloorontsteking, dikderminflamasie, iemand wat my kredietkaart steel en solank namens my gaan shopping doen. Toe kom ek agter ek het ‘n ystertekort. My mediese fonds is uitgeput, iemand probeer by my plek inbreek terwyl ek binne is, en ek sukkel om vriende te maak. En dis maar net die goed wat ek kan onthou. Natuurlik het ek my vergryp aan kos. Natuurlik het ek my ooreet. Om beter te voel, ja. En nou??? Nou sit ek met selfs ‘n groter probleem…

Laas naweek gaan kuier ek by my mense in Port Elizabeth. Kleinboet het 21 geword. En ek het hulle gaan verras. Dit was heerlik om vir ‘n verandering weer by my mense te wees. Hoeveel keer was ek nie al verby die punt om te bedank en terug te gaan huis toe nie? As dit nie vir my mense was nie, het ek sekerlik gequit en huis toe gegaan. Maar ek het gebly, en ek het vreeslik uitgesien na die kuier. Oor die naweek het ek egter agtergekom my een voet, wat al jare lank vir my probleme gee, is onnatuurlik geswel en seer. Teen Maandag middag is dit gevoelig om op te trap en steeds lelik geswel. Dinsdag kon ek glad nie op die voet trap nie. Bloedrooi, en blink geswel. En vrekseer om op te trap. Ek is bekommerd. Want dit is nie hoe dit gewoonlik is nie. Dit het altyd geswel, ja, dit was altyd ongemaklik, ja. Maar dit was nooit seer nie. Nie soos nou nie.

So hinkepink ek toe met my nommer 42 boude en seer voet die vliegtuig se trappies op. My voet klop. Ek byt op my tande teen die trane en sak weereens met moeite in die sitplek weg. My ma hulle is bekommerd oor my voet. Oor my. En nou moet ek alweer teruggaan JHB toe. Twee ure later, staan ek op een been en wag vir my tas. Eers se hulle ons bagasie is in PE vergeet, en toe het hulle dit weer gekry. En hier staan ek al vir meer as ‘n uur en wag vir my tas. En my voet is ondraaglik seer. Ek sukkel met my tas na die busstop waar die shuttle ons gaan kom haal. My kar staan by longterm parkering. Ek mis die bus net-net en sug. Dis nou presies wat ek nodig het. Om met ‘n seer voet en al vir ‘n bus te wag.

Toe die bus uiteindelik kom, kyk ek wantrouig na die styl trappies. Ek wonder skielik hoe ek myself met een been en ‘n swaar tas op die bus gaan kry. Ek het egter skaars probeer, toe die busdrywer naderstaan en my tas aanvat. Uiteindelik sit ek in die bus. Doodmoeg. Pap natgesweet van al die sukkel. Met my voet wat klop soos ‘n drom wat aanhoudend met iets hard gemoker word. By die longterm parking aangekom, sukkel ek van vooraf om weer by die bus af te kom. Nog iemand hardloop nader en help my met my tas tot by die kar. Snaaks hoe mense steeds vir die mense rondom hulle omgee… Mens sou verwag hulle sal anderpad kyk, aangaan met dit waarmee hulle besig is, en van my vergeet, maar hierdie jong lat staan dadelik nader en help my. Darem ‘n ligpuntjie in vandag se donkerwereld.

Toe slaan ek vol verkeer. Jhb verkeer. En vat dit my amper twee ure om weer op Potch te kom. Teen hierdie tyd is ek doodmoeg, en my voet voel nie meer soos my eie nie. Al is dit styf toegedraai met ‘n verband, en al het ek amper 4 disprins reeds in my lyf, is dit steeds geswel en seer. Ek moet dokter toe gaan, het my ma keer op keer gese, maar ek wil mos nie luister nie. Nee. Die volgende dag werk ek heeldag. Met ‘n gehinkepink en al. Heeldag hoop en bid ek dit was net van ‘n tydelike aard, dat die swelling en rooigeid sal verdwyn. Maar ek was verkeerd. Daardie aand kyk ek weer na my voet daar doer bo in die lug. Dis seer. En dit kriewel met ‘n branderigheid en speldjies tot amper by my knie. En ek weet net iets is verkeerd. Net more gaan ek dokter toe, besluit ek net daar, en val weg in ‘n onrustige slaap.

Gisteroggend is my voet steeds nie beter nie. Trap ek nogsteeds moeilik op ‘n voet twee keer sy normale grootte. En ek weet ek sal moet dokter toe gaan. Ek het my vermoedens wat dit kan wees, maar ek glo dit nie. Nie totdat die dokter bekommerd na my kyk en se, “Sussie, dit is Trombofilia. En dit lyk sleg. Jy moet dringend 30kg verloor, anders sien ek swarigheid vir jou…” ‘n Aar het in my voet gebars. Bo-op my voet as gevolg van onnatuurlike druk daarop deur my ekstra kg’s. My are is verswak, se hy toe, en se weer ek moet gewig verloor. Ek het bietjie gaan lees daaroor… Arteries vat die bloed van jou hart tot by die ander dele van jou liggaam. Veins neem dit weer terug na jou hart. My veins is verswak. En ek kry toe ‘n verstopping in ‘n aar op my voet, wat toe bars en inflamasie in die voetweefsel veroorsaak. Die bloed kon toe nie behoorlik terug kom by my hart nie, en veroorsaak toe dat vog in die voet opbou en verdere swelling en pyn veroorsaak. Dit is lewensgevaarlik, se die dokter weer. Asof ek nie klaar bekommerd genoeg is nie. Met ‘n voorskrif in die hand, stap ek ‘n rukkie later weg. ‘n Berg van 30kg le voor my. En ek het geen idee hoe ek dit ooit gaan verloor nie.

Nou sit ek hier vir julle en skryf. En ek wonder weer by myself hoe ek die berg se gewig gaan verloor. Hierdie keer is dit nie vir mooi lyk nie. Inteendeel. Hierdie keer in my eie gesondheid en lewe op die spel. My voet is steeds rooi en seer, maar dit is minder geswel. Dit gaan nog ‘n rukkie vat voor ek op die voet kan trap en as die rooigeid nie teen Dinsdag weg is nie, gaan die dokter my weer op antibiotika site. Die salf le voor my op die tafel, ek moet nog my voet insmeer. En ek besef, dit help nie mens kyk na die 30kg nie, ek moet dit 1kg op ‘n slag vat. En een dag op ‘n slag. Soos vandag. Dit gaan nie oornag gebeur nie. Maar ek try ten minste. Gaan ek sukkel? Ja, definitief. Gaan ek nog moedeloos voel? Absoluut. Maar ek sal dit een dag op ‘n slag neem. En kg op ‘n slag. Tot ek die 30kg afgeskud het. Ek het vandag ‘n paar battles gewen, maar die oorlog le nog voor. Teen my emosionele eetgewoontes, teen my soettand en vergryp.

Ek kan dit doen. Ek weet ek kan. En hier op die blog sal ek julle gereeld op hoogte hou van my stryd teen die kg’s en al die lekker kos. Watter beter tyd om te begin as nou. It is time to take charge of my life. I’m sick and tired of being sick and tired. Dit is nou of nooit. Wie is saam met my?

12 thoughts on “Ek try ten minste…

  1. Karin Gerber says:

    Zellie
    Dit is in tye soos die wat jy moet weet jy is nie alleen nie. Jy is reg, jy kan nie maklik wees nie – maar een ding is verseker – jy is tot alles in staat deur Christus wat jou die krag gee. Staan vas en vat ‘n dag op ‘n slag. Gee ook jouself ‘n drukkie – onthou, jy is kosbaar! Stap die pad en vat die oorwinning en weet! – Jy is ‘n wenner! Sterkte

  2. eelt says:

    Jis, ek dink jy moet heel eerste ‘n veiliger blyplek kry – dit behoort moontlik te wees, miskien selfs inwoon by ‘n gesin.

    En ek ken nou nie arbeidswetgewing nie, maar dit klink vir my nie reg om iemand so vinnig, en sonder keuse te verplaas nie. Ek wonder of jy nie by ‘n vakbond moet aanklop nie.

    Sterkte hoor, ek glo beter tye is reeds op pad!

    • Anzel Gerber says:

      Hi, Eelt! Jong, ‘n veiliger blyplek as wat ek nou het, gaan ek nie sommer kry nie. Ek glo egter dis wat ek daarvan gaan maak, wat die verskil gaan wees. Ek is ‘n HR generalist van beroep. So ek ken die arbeidswetgewing. Ek het ook ‘n klousule onderteken dat ek wel mobile is. Daar is egter nerens gestipuleer dat hulle my voldoende notice moet gee nie. Om Nestle darem so bietjie te verdedig, dit was ‘n noodsituasie en ‘n last minute decision om my Potch toe te stuur. Ek is die enigste een wat die gemors daar kan gaan regmaak. So nou is ek hier en ek vat dit maar net een ding op ‘n slag. Glad nie nodig om by ‘n vakbond aan te klop nie. :-)
      Dankie dat jy omgee, though! Ek glo ook die beter tye is nou oppad. :-)

  3. Marthie says:

    Sterkte Anzel. Ek is baie jammer oor jou pyn. Maar jy’s reg. Een dag op ‘n slag en 1 kg op ‘n slag. Miskien eerder een gram op ‘n slag. Ons sal jou ondersteun saam stap. Vasbyt!

    • Anzel Gerber says:

      Ag, dankie Marthie. En welkom hier op my blog! Ja, jong, dis eina, maar ek sal regkom. Ek sal sterker hierdeur kom. I’ve been put through the fire, but I’m coming out as pure gold. Ek glo vas dit is die geval en dat hierdie mislukke seisoen gou verby sal gaan. Ek bly positief! :-)

  4. klippie says:

    Sjoe, ek dink jy is op die oorwinningspad. Moenie moedeloos word nie. Onthou, mens klim ‘n stel trappe net een-een op ‘n slag.

    • Anzel Gerber says:

      EK stem 100% saam met jou, Klippie… Die lig is aan die einde van die tonnel. Ek moet net vasbyt en deurdruk. Ek bly positief en glo dat ek elke dag sal deurkom, as ek die Here aan my kant hou en my oe op Hom hou. Hy sal my deurbring. Met Hom aan my sy, sien ek kans vir enige iets! Hoop ek sien jou gou weer hier op die blog! :-) Mooi bly, Tatta!

  5. Marile Cloete says:

    Baie geluk met jou besluit, Anzel – en baie sterkte! Ek het so ‘n jaar en ‘n half ‘n cholesterol-skok gekry, wat my baie vinnig gemotiveer het om die gewoontes wat daartoe gelei het, aan te spreek. (Spesifiek my kaas- en sjokoladeverslawings!) Ek het later gelees ‘n deskundige sê mense verloor baie makliker gewig as hulle deur iets méér as net voorkoms gemotiveer word. Ek hoop jy kry dit ook mettertyd reg om hierdie swarigheid as ‘n geleentheid te sien! Groete!

    • Anzel Gerber says:

      Haai, Marile. Dit is nogal ‘n skok vir jou sisteem om sulke nuus te kry… Veral as mens niks vermoedend deur die lewe gaan en hoop dis maar net nog ‘n ding wat sal oorwaai. En dan kom die bom… Ek moet erken ek is uit my swymeling geskok en is hard besig om hierdie kilo’s een een af te skud. Ek het nie in een dag die gewig opgetel nie. Ek kan nie verwag om in een dag al die gewig te verloor nie. Maar aanhouer wen… Eendag… Hopelik nie te ver van vandag af nie, kan ek spog met ‘n nuwe Zellie, 30kg ligter… :-)

  6. annamarie says:

    Ek het net so aakligge tyd deurgemaak maar n kar ongeluk, mislukte huwelik ens… My rede vir die 75kg wat ek opgetel het in 3 jaar se tyd!!! EKs tans 137kg hoe verloor ek dit as my als en my wilskrag weg is? Raad??? Ek moet ek willie mee so lyk nie asb iemand help,,, ek is ook medies ongeskik verklaar agv die ongeluk, so geld vir goetertjies en spesiale kosse is daar nie???

    • Anzel Gerber says:

      Annamarie

      Ek is so verskriklik jammer om te hoor van al die dinge wat in jou lewe al gebeur het. Ek kan nogal dink dat jou gewig ook sal beinvloed, veral as jy n emosionele eter is soos ek. Raad het ek nie vir jou nie. Ek kan net vir jou vertel hoe ek dit gedoen het.

      Oor die afgelope paar weke het ek. 12kg verloor. En ek het nie spesiale kosse geeet of baie geld uitgegee nie. Ek het ‘n paar simpel beginsels gevolg:

      1) Ek moes dit WIL doen. Dis ‘n hartsaak, en jy sal dit moet wil doen.

      2) Drink baie water. Skoon kraan water of gefiltreerde water.

      3) Eet baie vars vrugte en groente. Vyf ‘n dag kan werk… Dis mos wat die dokter voorskryf. :)

      4) Eet genoeg proteine. Dit hou jou vol en is oor die algemeen goed vir jou.

      5) Vermy baie stysel produkte soos brood, koek, aartappels, pasta en verwerkte kosse.

      6) Vermy suiker en cafeinne. Dit gee jou energie en as jy nie die energie gebruik nie, sit dit om in vet.

      7) Probeer om ten minste drie keer ‘n week vir ‘n halfuur te gaan stap. Dit help jou metabolisme aan en sal jou help vet verbrand.

      Dit is wat my gehelp dit. En dit sal jou nie baie geld kos nie. Sterkte met jou plan en stuur gerus vir my ‘n epos as jy met my wil gesels. Ek help jou graag!

      My epos: anzelgerber08@gmail.com.

      Liefde,
      Anzel

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Connecting to %s