Ek ril en tel dit weer op
Pasop dat jy nie self in die gat val nie, lees ek die wit notatjie vir die hoeveelste keer.
Weer sit ek dit vies op die tafel neer, trek my vingers deur my hare. Ek sug. Dat ek myself nou so sal vererg vir ʼn simpel dreigbriefie. Asof ek normaalweg daarvoor skrik. Inteendeel. Normaalweg ignoreer ek dit. Ek frommel dit op en gooi dit weg. Normaalweg. Iets sê egter vir my dat hierdie nie ʼn normale geval is nie.
En draai my kantoorstoel weg van die lessenaar, staan op. Met my hande op my heupe kyk ek na die vertrek. Dis leeg. My laaste dag op kantoor het sopas aangebreek. Vir een of ander rede grief dit my.
“Jy moes al lankal van daardie werk van jou ontslae geraak het,” koggel Ma se stem deur my kop. Ek draai na die venster, gaan staan turend na buite.
Ma is natuurlik reg. Hierdie beroep is nie vir ʼn vrou gemaak nie. Dis gemaak vir die harteloses. Diegene sonder enige afhanklikes. Wat kan kom en gaan soos hulle lus kry. Iemand wat nie deur die samelewing gemis sal word nie. Wat kan verdwyn, sonder ʼn spoor.
Ek ril weer en vryf oor my arms. Dis Winter in Johannesburg. Die wolke is grys en swaar. Soos my gemoed. Ek sien in die verte die eerste blitse flits. Soos ʼn dreigende gevaar. Het ek dalk te laat na Ma geluister?
Ek ruk toe iemand aan my deur klop.
“Jammer, Michelle. Daar is iemand op lyn een vir jou.”
Ek kyk na my partner. Hy vermy my oë. Hoekom? Wat steek hy weg? Hy kyk na die grond, skop-skop met sy skoen teen die deur se raam.
“Dankie, Robert.”
Hy knik en draai vinnig om, trek die deur agter hom toe. Amper onmiddellik begin my telefoon op die leë lessenaar lui. Iets gryp my maag in ʼn staalgreep vas terwyl ek nader gaan.
Ek vee my sweterige handpalms aan my jeans se agterkant af, tel die foon op. “Michelle, hallo?”
“Michelle, dis Jaco.”
Jaco? Wat wil hy hê? Daar is skielik ʼn bitter smaak in my mond.
“Ek is regtig jammer om te pla,” gaan hy huigelend voort, al het ek nie op sy groet gereageer nie.
Ek snork. Jammer om te pla? Ja right! “Wat wil jy hê?”
Die lyn is skielik baie stil. Het hy nou neergesit?
“Ek dink nie jy’s in die posisie om ongeskik te wees nie, Mich.”
Ek byt my lip vas. Ek gaan my nie vir hom vererg nie. Maar as hy my nog net een keer Mich, dan kry ek sweerlik ʼn oorval!
Ek sug. “Nou goed. Waarmee kan ek help?” antwoord ek nog kouer as voorheen.
“Daar’s ʼn laaste job vir jou. Vir oulaas.”
Ek trek my asem skerp in. Ek het vir Robert gesê my bedanking is met onmiddelike effek. Hoekom my nou stuur op ʼn laaste opdrag?
“Nee, Jaco. Ek het vir Robert gesê…”
“Ek weet wat jy vir Robert gesê het. Dit maak nie saak nie. Kyk buitentoe.”
Huiwerig stap ek venster toe.
“Sien jy die swart Pajero met die swart getinte venters?”
Ek knik, asof hy my kan sien. “Ja,” antwoord ek dan, sluk droog.
“Dit sal jou vat tot by jou bestemming. Ek sal jou weer bel om instruksies te gee.”
“Maar…”
Die foon is dood. Hy het so wragtig die donnerse foon in my oor dood gedruk! As ek my sonde nie ontsien nie! Die bliksem!
Ek ontspan my vuiste. My humeur het my nog altyd net gehelp in hierdie tipe beroep. Maar vir nou moet ek kalm bly. Iets is nie lekker nie. Hoekom sal Jaco my op ʼn opdrag stuur sonder om details te bespreek?
Ek vernou my oë. Stadig begin ek heen en weer loop. Die laaste keer was hopeloos te naby vir comfort. As Robert nie daar was nie, het ek sweerlik nou ses voet onder die grond gelê en wurms opgaar. Dit was die laaste strooi. Ek het goed geld gemaak, ja. Dis nie die probleem nie. Dis net… ek het tog ook toekomsideale? Hoekom moet ek elke dag werk asof ek ʼn death wish het? Natuurlik was Robert net so geskok soos Jaco. Hy wou my ompraat, maar ek wou nie luister nie. Ek kon nie.
Nou wat is dit dan met hom? Wat beplan Jaco? En hoekom bulldozer hy reg bo-oor my besluit om vandag klaar te maak? Luister hy nie?
Ek gryp my selfoon, druk dit in my broeksak. Met my handsak oor my skouer, gaan soek en na Robert.
Sy kantoor is verlate. Net soos die res van die gebou. Onmiddellik soek ek na die horlosie teen die muur. Dis al na ses. Almal is al huis toe. Behalwe ek.
Ek haal diep asem. Ek het dus nie meer ʼn keuse nie. Die verdomde Robert het geweet ek moet vandag nog saam met hom ry. Net more blaas ek al sy tyres af.
My handsak se bandjie sny in my skouer in. Die pistool wat ek daar bêre vir die wis en die onwis begin nou swaar word. Daarsonder sal ek ook nie kan nie. Nie in die tipe werk wat ek al gedoen het nie.
Met ʼn sug knik ek vir die sekuriteitsoutjie by die voordeur. Hy’s nog so jonk, jy kan met hom kook. Letterlik en figuurlik. Testosteroon hou hom aan die gang. En dis sulke testosteroon wat my snaakse dinge laat aanvang. Soos om elke stukke van sy…
“Juffrou Bruwer?” onderbreek iemand my aggressiewe gedagtes en ek kyk op. My hand verstyf om die pistool in my handsak. Hierdie man is groot. Baie groot. En ek ken hom glad nie. Sy sagte stem fool my nie. Hierdie man het ander gedagtes.
Ek knik. Sien dan dat die swart Pajero hier neffens my staan en wag. Dit reën nou katte en honde. Die koue sny tot in my murg.
“Kom saam met my.”
Hy gryp my pynlik aan my bo-arm vas. Pluk my letterlik agter hom aan. So sal ek my darem nie laat boelie nie. Met een beweging ruk ek los en kap hom met die kant van my hand in die holte van sy nek en skouer. Hy syg soos ʼn sak aartappels grond toe.
Ek voel niks. Absoluut niks, terwyl ek swygend op hom afkyk. Reëndruppels loop oor my gesig, maar ek vee dit nie af nie. Vir sulke mans het ek nie tyd nie. Ook nie vir dié wat nou soos een man op my afstorm nie.
“Staan waar julle is,” beveel ek met die loop van my pistool sekuur op hulle gemik.
Hulle verstyf, gaan staan stil. ʼn Rammeling ruk deur die hemel. Ek kyk van die een na die ander. “Ek gaan my pistool laat sak. Dan gaan ek in die kar klim, sonder dat iemand aan my pluk. Verstaan ons mekaar?”
Hulle knik net.
Sonder meer druk ek my pistool terug in my handsak. Met ʼn laaste blik na die reus op die grond, klim ek in die kar, klap die deur toe.
Hulle sukkel om hom by te kry. En hulle stoei nog meer om hom regop te kry. Sy logge lyf bly gly op die nat sement. Ek snork en draai my kop weg. My selfoon begin lui.
“Ja?” groet ek kortaf toe ek Jaco se naam op die skermpie sien flits.
“Ja, Juffrou Sonskyn. Ek hoor jy’t een van my manne platgetrek. Kan jy jou nie vir een oomblik soos ʼn dame gedra nie?”
Nou beledig hy my boonop!
“Luister Jaco, ek laat my nie boelie nie…”
“En luister jy na my, Mich, as jy hierdie opdrag opfoeter, haal ek jou persoonlik uit hierdie lewe uit.”
Ek trek my asem skerp in. Hierdie man dreig nie net nie. Hy bedoel elke woord daarvan. Daarvoor ken ek hom al lank genoeg. Alles wat ek van hierdie beroep weet, het ek by hom geleer. Hy het my letterlik onder sy vlerk ingeneem en na sy hand getrain. Net soos hy my wou hê.
“Wat is volgende?” vra ek sag toe die groot bullebak met ʼn kreun langs my inskuif. Hy kyk net vinnig na my, draai dan weg.
“Bruce gaan jou na ʼn groot Warehouse net buitekant Randburg neem. Dit gaan verlate lyk, maar moenie dat dit jou fool nie.”
“Wat is my opdrag, Jaco?”
Hy sug en klik sy tong. “Altyd voor op die wa. Ek bel jou oor ʼn halfuur as julle daar aankom.”
Klik gaan die foon dood.
“Bliksem!”
Die bullebak langs my ruk verskrik, loer dan huiwerig na my.
Ek klik my tong en kyk by die venster uit. Die hemel is steeds grys. Grys soos die dood. Die karre wat verby ry lyk verwronge deur die druppels op my ruit. Onsekerheid en geduld is nie van my sterkpunte nie. Hy weet dit. En nou gooi hy al twee teen my kop. Ek moet myself sielkundig voorberei om wat ek moet gaan doen. Om mense links en regs af te maai is nie iets wat jou hemel toe vat nie. Hiermee stap jy oopoë reguit die hel in…
My selfoon lui onmiddelik nadat Bruce die voertuig voor die groot gebou tot stilstand gebring het.
“Ons is hier,” sê ek onnodig vir hom toe ek antwoord.
“Ek sien so. Luister nou mooi. Daar is ʼn man in die Warehouse. Hy is die enigste een daar en expect ons glad nie. Hy is besig met verslae…”
“Ek verstaan.”
“Bruce sal nou vir jou ʼn klein tassie gee. Daar binne sal jy twee spuitnaalde vind. Gebruik dit op hom.”
My hart klop vinniger en ek kyk vinnig na die die stoor wat soos ʼn spookhuis lyk in die dowwe lig van die enigste straatlig wat nog werk. “Daar is twee naalde?”
“Ja, jy het reg gehoor.”
“Wat maak ek met nommer twee?”
“Ek sal jou laat weet.”
Weer klik die foon in my oor dood.
Met die tassie in my hande en die pistool by my broek ingedruk, hardloop ek deur die reën. By die deur wat Bruce aan my gewys het, gaan ek in.
Ek staan ʼn oomblik stil. Vee die water uit my gesig. Bruce het gesê die kantoor is op die tweede verdieping. Doodstil sluip ek by die trappe op. Ek sien die lig onder die deur van ʼn kantoor uitkom. Versigtig sit ek die tassie op die vloer neer, knip dit oop. Die twee spuitnaalde druk ek vinnig in my baadjie se sak.
Die man het dit definitief nie sien kom nie. Ek is by hom nog voor hy kan regop kom. Met ʼn geoefende beweging druk ek die naald in sy skouer, sien die skok in sy oë.
Ek tree terug. Ek sien hoe hy die stryd op lewe verloor. Hy val van die stoel af. Sy oë amper beskuldigend op my gerig.
“Bravo!”
Ek skrik, vlieg om. Stupid vroumens! Hoe kan jy jou so laat meesleur deur die skok in hierdie man se blou oë? Dis nie die eerste keer dat jy dit doen nie! Vervlaks!
Jaco klap sy hande teen mekaar, kom skoorvoetend nader.
“Wat maak ek met die tweede naald?”
Hy verstil. Sy gesig vertrek lelik. “Ek is jou ewig dankbaar vir hierdie laaste guns wat jy my gedoen het. Ek het geweet ek kan op jou staat maak.”
Ek frons. Jaco klink anders. Sy stem is koud, gevaarlik. My hand verstyf om die laaste spuitnaald in my sak. “Jy antwoord my nie.”
Ek hou hom dop, sien hoe hy om die tafel beweeg. Hy hurk by die man, voel teen sy pols. Toe hy regop kom, skrik ek my koud. Iets is fout. Grootfout.
“As daar niks anders is nie…”
Met sy hande agter sy rug kom hy nader. Skud sy kop. “Jy het ʼn groot fout gemaak. Niemand wat uit hierdie beroep bedank kom lewend hier uit nie.”
ʼn Vae vermoede begin by my posvat. Ek retireer. Dit is tyd. Die leerling moet haar verdedig teen die meester. ʼn Meester met moord in sy oë.
“Weet jy wie jy hierdie keer vermoor het?”
Ek skud my kop. My rug is teen die muur. Stadig lig ek die naald uit my sak, vou dit tot agter my rug.
“Hy was my partner. Ek was lankal moeg vir hom. En nou het ek die ideale geleentheid om van jou ook ontslae te raak.”
My mond voel droog. Waarvan praat hy?
“Dit is actually slim, dink jy nie?” gaan hy ongenadig voort, “Jy vermoor my partner op kamera, ek verdedig myself teen jou wraak nadat ek jou ma hemel toe gestuur het.”
Ek trek my asem in. Nee!
“Natuurlik gaan niemand weet van ons gesprek nie, Mich,” sê hy vermakerig en stap nader. Nog nader. Tot hy teenaan my staan.
My hartklop versnel. My hele lyf ruk styf in gereedheid. My vingers verstyf verder om die naald.
“Dis waarvoor die laaste spuitnaald is,” sê hy teen my wang.
“Hoekom?” wurg ek by my droë keel uit.
Daar is haat in sy oë. Koue, wrede haat.
“Want jy het beter geword as ek. Waar is dit?”
Hy steek sy hand na my toe uit. Ek is egter vinniger as hy en glip om sy lyf. Met een beweging druk ek die laaste naald tussen sy blaaie vas. Ek retireer toe hy vloekend omswaai, sy hand stewig gevou om die klein messie tussen sy vingers. Hy kom nader. Ek gee nog ʼn tree agteruit. Sy oë is wild, sy mondhoeke vol skuim.
Hy val eers op sy knieë. Sy gesig baie bleek. “Jy gaan nie hiermee wegkom nie!” roep hy hees uit. Hy ruk. Sy lyf vou skeef. Hy hyg na asem, val dan vooroor. Die messie skuif ʼn ent oor die mat.
Vir lang oomblikke kyk ek op hom af. Die bliksem!
Toe hoor ek die sirenes.
A. Gerber. 2010. © Kopiereg Voorbehou.