Hanswors

Ek ruk toe my dogtertjie se gil deur die donker huis weergalm.

            Sonder om die lig aan te sit, kom ek lomp uit die bed, val-val deur toe. As ʼn kind so gil, en dit in die stildonkerte van middernag, beteken dit net een ding. Nagmerries. Dit maak egter twee van ons. Ek kon nie ʼn oog toemaak nie. Hoekom Ma nou juis ʼn verdekselse nar op Shelley se vyfde verjaardagpartytjie wou hê, gaan my verstand te bowe. Sy weet ek is vrekbang vir die goed!

            “Wat is fout, Skatlam?” vra ek toe ek uiteindelik langs haar op die smal enkelbedjie neersak. Dis koud. Ek trek die duvet oor my lyf, vou haar in my arms toe.

            “Daar’s ʼn handwors in die kas.”

            Ek verstil. “Jy bedoel seker hanswors.”

            “Dis wat ek gesê het. Handwors,” kom die plaerige stemmetjie in die donker. Sy snik, vou haar dun armpies krampagtig om my saam.

            Dis nou ʼn gemors. Ek wonder wie is banger vir die hanswors. Sy of ek?

            “Ag nee, Shelley. Die hanswors is lankal huis toe. Hy is nie meer hier nie,” praat ek teen my beterwete die drogbeelde in my kop weg.

            “Hy is!”

            Ek onderdruk ʼn sug. Nou moet ek ʼn ma wees en die hanswors uit die kas gaan jaag. Dis tye soos hierdie dat ek wens ek was getroud. ʼn Man sou makliker van die hansworse in hulle kaste kon ontslae raak. ʼn Man soos Martin. Ek is steeds lief vir hom, al is hy nie meer die man wat hy voorheen was nie.

            Ek skud my kop, raak ontslae van die muisneste.

            Nou is dit nog donker ook.     

            Ek ril en skuif onder die veilige hitte van my dogter se arms uit. My hart klop vinniger. Ek sluk, vee my sweterige hande aan my verslete pajamas af. Ek steek my hand na die kas uit, trek dit weer terug. Sê nou maar daar is regtig ʼn hanswors hier binne? Sê nou maar dit spring weer op my soos toe ek nog ʼn jong kind was?

            Braaf skud ek my kop, reik weer na die kasdeur. Shelley mag nie sien hoe bewe ek van bangheid nie. Dis nie haar skuld dat ek ook van kindsbeen af ʼn doodse vrees vir narre het nie. Ek sluk. Ek hou my asem op, pluk die kasdeur vinnig oop. Ek los die deur asof dit my skok, staan dadelik ʼn paar tree terug. Ek retireer, my vingers soekend na die bedlampie se knoppie.

            “Sien jy, Shelley. Daar is nie ʼn hanswors nie,” antwoord ek sonder om na haar te kyk. My oë is vasgenael op die pop wat oopbek vir my lag. Al wat die pop kort is ʼn rooi neus en blou hare. Dan is dit net so skrikwekkend soos ʼn nar.

            Shelley reageer nie. Ek draai om, verstyf. My dogter is nie meer in haar bed nie.

            “Shelley?”

            My hart mis ʼn slag. Waarheen sou sy gegaan het? Sy het nie by my verby gekom nie. Het sy? Maar ek sou haar tog gesien het?

            “Shelley!” roep ek hierdie keer dringender, die vrees van die verdekselse hanswors in die kas ʼn oomblik vergete.

            Ek val plat op die vloer, loer onder die bed. Sy’s nie daar nie. Hande viervoet kruip ek om die bed. My dogtertjie is ook nie daar nie. Paniek gryp my maag in ʼn klipvuis toe. Ek is skielik kortasem.

            Met bomenslike krag spring ek tot op my voete. Ek begin draf. Met die lang gang af badkamer toe. Dis nog donker. Die lig verblind my toe ek die skakelaar haastig druk. Leeg. Shelley-loos.

            “Shelley!” raak ek nou kwaad. As ek die kind in die hande kry…

            Ek draai om. Gil verskrik toe Shelley skielik voor my staan. “Hemel, Shelley!” hyg ek en sak op my knieë neer. “Waar was jy?”

            Uitdrukkingloos kyk sy na my. Haar kop kantel skuins.

            “Shelley? Wat makeer?”

            Sonder ʼn woord draai sy om, stap soos ʼn slaapwandelaar in die gang af. Ek hoor my hart in my keel klop. Wat is aan die gang? My temperatuur styg. Ek voel hoe die sweetdruppeltjies teen my slape afloop.

            Ek volg haar. By die kombuis steek sy vas. Sy draai haar kop, kyk na iets. Knik.

            “Shelley?”

            Sy ignoreer my, stap verder.

Haastig sit ek die lig in die gang aan. Verligting spoel deur my. Dis Shelley se kat, Spikkels. Ek glimlag, ontspan my hande. Ek is sommer nou verspot.

“Kom Shelley, dis nou genoeg. Dis skool more.”

Sy stap verder. Asof sy my glad nie gehoor het nie.

Ek skud my kop, vou my arms. “Staak dit, Shelley! Dis nie snaaks nie.”

Sy gaan staan in die deur van die sitkamer. Deur die gordyne sien ek hoe die blitse die nagstilte verbreek. Dan hoor ek die rammeling. Ek sluk. My oë soek weer na Shelley.

“Shelley!” Sy’s al weer weg. Hemel, wat gaan vanaand met die kind aan?

Ek drafstap sitkamer toe, toets die ligskakelaar. My asem stol in my keel. Ek druk weer aan die skakelaar. Die werk nie! Ek draai om, sien dat die ander ligte wat ek reeds aangesit het, ook nou dood is.

ʼn Geluid laat my ruk. Ek swaai om. Shelley sit op die mat. In die middel van die sitkamer. Sy kyk na my. ʼn Klein glimlaggie speel om haar mond.

“Shelley, ek praat nie weer nie!” raas ek die paniek in my lyf weg.

Weer reageer sy nie.

Ek begin nou benoud raak. Shelley het my nog nooit moedswillig teë gegaan nie. Sy het kanse gevat ja, maar my nie herhaaldelike kere ignoreer nie. Nou wonder ek… Hoe sou haar sussie gewees het? Die deel van my wat ek moes opgee? Al wou ek nie?

Damn you, Martin!

My lyf krimp ineen van skrik toe ʼn helse donderslag deur die nagstilte ruk. Ek sidder, probeer die glimlag op my gesig daar hou. Shelley sit nog steeds na my en kyk. Haar oë is snaaks. Dis so emosieloos. So koud. So asof dit nie regtig sy is nie…

Ek het van die begin af vermoed daar is iets fout met Martin, maar hy wou niks hoor nie. Ek was kwaad. Woedend. Hoe kon hy? En toe…

“Mamma? Ek is bang vir die handwors.”

Ek ruk, draai stadig om. Ek kyk na my dogtertjie met traanstrepe oor haar wange. Sy klou haar Gemmerbeer teen haar lyfie vas. My hart klop op die ritme van die storm wat daar buite woed. Ek kan die kind nie antwoord nie. My tong is lam, vrees druk my keel toe.

Ek byt my lip vas, loer vinnig oor my skouer. Die sitkamer is nou leeg.

“Mamma, ek kry koud,” kerm Shelley verder, kom staan styf teen my bene.

Koue vingers streel teen my rug af. Ek kon sweer Shelley was nou net in die sitkamer. Ek het my dit nie verbeel nie. Ek knyp my voorarm, deins terug toe die pyn skokkend deur my lyf skiet. Nee, ek is nie besig om te droom nie.

“Mamma?”

My dogtertjie se bang stem ruk my terug tot die hier en nou. Ek sak tot op my hurke, vou haar styf teen my bors vas. “Waar was jy?”

“Ek het Gemmerbeer in Mamma se kamer gaan soek.”

Ek trek my asem skerp in, sluit my oë ʼn oomblik. “Was jy in die sitkamer, Liefie?” vra ek verby die benoudende drukking om my keel.

Weer ruk die donderende natuur deur die stil huis. Shelley verstyf, gaan dan aan die bewe. Sy skud haar kop, gooi haar armpie om my nek.

Ek kom regop, tel haar teen my lyf op. Ek kyk op. Die ligte is weer aan. Ek skud my kop, voel hoe die histeriese giggellaggie oor my lippe borrel. Ek is besig om mal te raak. Dalk het ek te veel soetigheid in gekry.

Ek blaas my asem stadig uit. Shelley se hartklop is onstuimig teen myne. Sy bewe nog steeds soos ʼn riet in my arms.

“Jy kan vanaand by my slaap, okei?” troos ek die kind, streel oor haar ruggie.

Soos ʼn ouvrou loop ek met die gang af. Ek sukkel om my voete op te tel. Dit voel asof daar ʼn onsigbare gewig om my enkels hang. Ek sit die ligte af soos ons loop, ruk toe die donderweer woedend aan die ruite begin pluk. Onmiddellik klap reëndruppels oorverdowend op die dak.

Ek begin haastiger beweeg. Shelley praat met my, maar ek kan haar skaars hoor. Die gedruis teen die ruite verdoof enige vorm van kommunikasie. Genadiglik maak dit ook die ontsellende gedagtes in my kop stil. Ek is sekerlik besig om mal te raak.

“Daar is iemand in die huis, Mamma,” fluister Shelley in my oor toe ek haar op my bed neerlê.

Ek sit so vinnig regop dat ek my balans verloor. Ek gryp na die duvet, klamp dit tussen stywe vingers vas. Het ek reg gehoor? Het Shelley ook die kind gesien?

“Wa… wat bedoel jy?” vra ek, sluk effens teen die skielike droogheid in my keel.

“Handwors.”

Die enkele woordjie laat my ril. Teen my eie vrees in, glimlag ek, streel oor my dogter se wang. “Dis okei, Shel. Slaap jy nou. Ek sal hier by jou bly.”

Maar ek kan nie slaap nie. Met elke geluidjie gaan my hart op die galop. My vingers kramp. My maag pyn. Selfs my kop is seer. Hoekom moet ek juis nou onthou? Hoekom moes ek nou juis herinner word aan Martin… aan die ander kind? Die kind wat ek nooit geken het nie? Hoekom, Martin? Hoekom het jy my dit laat doen? En hoekom het alles daardie dag so handuit geruk?

ʼn Honende lag laat my later met ʼn ruk regop sit. Ek moes ingesluimer het, want ek is deurmekaar. My kop voel deurmekaar, asof ʼn kraai daarin nes gemaak het. Shelley kreun teen my. Gemmerbeer hou sy steeds soos ʼn trooskombersie teen haar vas. Genadiglik slaap sy.

My oë soek na die klokalarm langs my bed. Dis net na drie. Die swaar weer het bedaar, nou hang daar ʼn kille stilte oor die huis. Wat het my wakker gemaak?

Toe die hoonlag weer deur die stilte breek, kreungil ek. Met dom vingers soek ek na my selfoon. Nou het ek genoeg gehad. Nou bel ek my ma.

“Hallo?” antwoord Ma deur die slaap.

“Ma en Ma se verdomde narre!” antwoord ek skerper as beplan.

Ma antwoord nie.

“Ma?”

Stilte.

“Ma? Hallo? Kan Ma my hoor?” Paniek laat my vinnig na die deur loer. Dan kyk ek na die skermpie van my selfoon. Dis dood. Morsdood.

Weer ruk die lag deur die huis, weergalm tot in my siel.

“Ag, Here, beskerm vir Shelley!”

Stilte.

Ek kan my eie hartklop hoor. My asemhaling kom hortend oor my bewende lippe. My lyf voel lam. Ek moet iemand bel. Maar die huisfoon is in die sitkamer. Ek voel siek. Naar tot in my tone. Ek moet dit doen. Vir Shelley.

Stadig kom ek regop, vat die metaalflitslig wat ek altyd langs my bed bêre. Ek sluk, probeer my bewende innerlike bedaar. Voetjie vir voetjie loop ek deur toe. Met my rug gaan leun ek teen die muur, die flitslig soos ʼn wapen voor my bors. Met my tone stoot ek die deur oop.

Doodstil staan ek. Ek snuif in die lug. Niks ruik vreemd nie. Dis als net koud. En doodstil. Ek sluk en gee ʼn tree gang af. Die reën het effens bedaar. Ek kan nou weer my eie hartklop hoor.

By Shelley se kamer, gaan staan ek soos die FBI agente wat ek op die TV gesien teen die muur, die flitslig soos ʼn wapen in my hand. In een beweging, swaai ek tot in die deur. Verlig die hele vertrek. Niks.

Ek blaas my asem uit, laat sak die flitslig weer tot by my voete. Nou die badkamer. Niks. Kombuis is ook skoon. Die lag is stil. En my senuwees is aan skerwe.

In die sitkamer draai ek in die rondte. Ek lag bewerig, vryf oor my yskoue arms. Dit was als net my verbeelding. Ma en haar narre…

Iets val in die eetkamer. My hart ruk. Ek byt my lip vas teen die gil wat dreig om by my keel uit te bars. Versteen staan ek en luister. Dit is nie Spikkels nie. Hy weet om nie om die glaspotte te peuter nie. Daar is wel iets… of iemand anders…

Ek stap stadig nader. Ek hou my asem op. Te bang om selfs asem te haal. My vingers is al styf gespan om die flits in my hande. Shelley! Ek kom, kindjie. Ek kom.

In die eetkamer, voel dit asof my hart gaan bars. My asemhaling kom rukkerig oor my lippe. Ek sien die potskerwe op die tafel lê. Stadig stap ek nader, steek dan vas. Op die tafel lê ʼn A4 grootte foto. Van haar en Shelley. En die bebloede mes dwars daardeur gesteek.

Die hoonlag ruk agter my op. Ek ruk styf. Ek laat sak my kop, voel hoe my nekhare begin rys. Ek draai om. Lig my kop.

Dis hy! Die verdomde, verdekselse nar wat Ma gehuur het…

Hy kyk na my met sy geverfde oë, sy rooi neus, blou hare en fake glimlag. Weerlig verlig sy gesig toe hy nader kom. Sy oë is koud.

“Het jy van my vergeet, Emma?”

Ek knyp my oë styf toe, sluk. Ek ken daardie stem. Dis Martin. Shelley se pa. Maar hoe het hy uitgekom? Hulle sou hom nooit daar laat uitkom het nie! Nie in sy toestand nie. Hy het my probeer doodmaak! En vir Shelley! Hoe… Waar… Hoekom?

“En het jy vergeet van Shelley se tweeling? Hmm? Die ander helfte, Sherlene, wie jy weg gegooi het?”

Ek het haar nie weg gegooi nie! Sy was my kind! Jy het my forseer om haar weg te gee! En toe haak jou kop uit… Hoekom? Martin, hoekom?

Ek trek my asem in toe Shelley se ewebeeld agter sy bene uitkom.

“Waar het jy haar gekry?” vra ek skor, my oë vasgenael op my ander dogtertjie.

Hy skud sy kop. Dan lag hy weer uit sy maag. Stadig stoot hy sy arm verby my lyf, pluk die bebloede mes uit die tafel uit. Sy oë lyk wild. Net soos daardie laaste dag toe hy in sy nargewaad ʼn skrikbewind in hierdie huis gevoer het. Die laaste dag van sy normale lewe buite die gestig. Hoe het hy uitgekom?

“Dis tyd dat jy betaal, Emma. Vir alles. Ek vat die meisies,” sê hy skielik kalm, vee met die mes se lem oor my wang.

“Nee!”

“Ja. En jy gaan niks doen om my te keer nie.” Hy lig die mes bo sy kop.

Ek gee ʼn tree agteruit. “Nee!”

Hy gryp my vas. Dan gooi hy sy kop agteroor. En lag.

A. Gerber. 2010. © Kopiereg Voorbehou.

12 thoughts on “Hanswors

    • ;-) Lelani, my vriendin het so n week terug vir my gesê sy weier om hierdie kortverhale van my in die aand te lees. Aanvanklik het ek gedink ek gaan sukkel, maar heel duidelik is daar niks met my verbeelding verkeerd nie…

      • Ek dink ook nie daar skort iets met jou verbeelding nie! Ek dink jy het die perfekte genre gekry om in te skryf. Ek sien ook – as mens nie lekker voel oor ‘n storie nie dan sukkel dit maar om te vloei!!

  1. Dankie vir die kompliment, Lelani. Ek moet net die moed bymekaar skraap om nog sulkes te skryf, dan behoort dit makliker te gaan in die toekoms. Ek wil ook iets dikker aanpak. Baksteen grootte, maar dis nog n rukkie die toekoms in. Sal maar sien. :-)

    • LOL!!! Toemaar, jy’s nie die enigste een wat so reageer nie! My ma het behoorlik nagmerries gekry nadat ek “Swart” vir haar gelees het, en nou weier sy om die res te lees… As dit nie vir die bundel was nie, het ek seker nooit in hierdie genre begin skryf nie. Maar ek moet se, dis nogal n groot uitdaging.

  2. Hi Anzel. Ek het jou blog kom opsoek vandag. Dis sommer so lekker gevoel om te weet “ek ken jou”, al is dit net om te ken van saam ‘n skryfkursus doen. Ek gaan ‘n punt daarvan maak om al jou stories te lees.
    Lekker dag
    Monica Smit

  3. Dankie! Ek geniet die probeer skryf baie. Partykeer gaan dit woes met die kinders en huishouding, so dit is maar partykeer laat aande werk. Die paniek pak ’n ou net as jy voor die rekenaar sit en daar kom niks en dan het jy al twee dae geloop en daar gaan niks in jou kop aan nie! Dit is seker ook deel van die hele skryfproses.
    Lekker dag vir jou
    Monica

    • Hi, Monica
      Ja, jong. Dit is die lewe van ‘n skrywer. Mens moet jou lewe balanseer met jou skryfwerk… Soms kom jy selfs nie daarby uit nie, of jy is net so besig dat jou kop toeslaan. Ek ken die gevoel. Moet net nie paniekerig raak nie. Ontspan, haal diep asem en gaan stap in die tuin. Vars lug en kalmte help nogal baie. En wie weet? Dalk sien jy iets wat jou kreatiwiteit sal prikkel?
      Sterkte!

  4. Anzel
    Dis Vrydag!!! Ek wil uitvind wat die vereistes vir ‘n kortverhaal behels. Ek wil ’n kans waag en in skryf vir ‘n kompetisie. Jy moet hou by die reëls vir ’n kortverhaal, maar hulle stip nie werklik dit uit nie. Ek gaan werk op die uitset van ons skryfkursus, sal dit reg wees?
    Groete
    Monica

    • Haai, Monica! Jy is heeltemal reg. Wat jy by die skryfskool leer, is als wat jy moet weet oor die vereistes van ‘n kortverhaal. Volg dit presies, en jy sal goeie resultate kry! :) Sterkte en laat weet my hoe het dit gegaan!

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Connecting to %s