Jakkalsdraai

Die gang is donker en koud. Net hier en daar brand ʼn liggie om te keer dat iemand homself in sy graf in loop.

            Ek ril. Wat kom soek ek in elk geval in die middel van die nag hier? Dis ʼn hospitaal, for crying out loud. ʼn Plek vol halfdood mense, siek mense, en diegene wat wens hulle was eerder siek. Of dood. Soos ek. Hoekom het ek na James geluister?

            Ek stop net buitekant saal nege. Die matrone is nie hier nie. Dis suster van nagdiens ook nie. Dit is dus veilig. Ek kan vir eens en vir altyd ʼn einde maak aan hierdie monster se tydelike bestaan.

            Die deur swaai geruisloos oop toe ek daaraan druk. Die swaar hospitaalreuk maak my naar. Dit ruik soos die dood. Iemand roggel na asem. Weer gril ek tot in my murg. Wat het my tog besiel? Ek gaan nooit hiermee wegkom nie!

            Ek stap dieper die saal in. Dis die eerste keer dat ek hier kom. Ek het geweier om my voete hier te sit, om my weer bloot te stel aan hierdie man wat net kan vat, wat nooit ooit sal dink om terug te gee nie. Mandy en Misha het my nooit forseer nie. Hulle weet nie eens dat ek nou hier is nie. Net James weet. En ek.

Sy figuur is groot en bonkig op die enigste bed in saal nege. Hy was toe nie so arm soos wat hy wou voorgee nie. Om alleen in so ʼn saal te lê, moet jy ʼn paar pond tien hê. Dus het hy hulle almal vir die gek gehou. Vir my ook.

ʼn Woede neem van my besit. Ek voel hoe dit teen my bene opklim, in my maag kom neskop en dan in my vuiste kom land. My vel tintel skielik. My asem jaag effens. Ek stap nader, reik vasberade na die spuitnaald in my jas se sak. Vanaand is die aand, ou toppie. Vanaand ontmoet jy jou skepper!

Die figuur beweeg effens en ek verstil. Doodstil staan ek na hom en kyk. Sy gesig is in my rigting gedraai, so asof hy weet ek is hier.

Na ʼn paar minute gee ek versigtig die eerste tree.

“Wie het gesê die wolf is die bad guy?” praat hy skielik met my en ek ruk styf.

Flippit! Dit was nie deel van die plan nie. Dis juis hoekom ek in die middel van die nag gekom het. Ek vou die swart jas stywer om my lyf, laat sak my kop. Miskien kan hy my nie sien nie.

“Ek weet jy’s daar, Mieke. Ek ruik jou.”

Ek lig my kop, ontspan my skouers. Soveel so vir voorgee ek’s ʼn volstruis. Wie het nou al ooit gedink as jy jou kop in die sand steek, dat niemand jou lyf sal kan sien nie? Net omdat ek hom nie kan sien nie, beteken nie hy kyk my mis nie. Inteendeel.

Ek antwoord hom nie. Ek wil nie. Ek kan nie. My hand verstyf om die spuitnaald, lig dit uit my jas se sak.

“Jakkals trou met wolf se vrou.”

Ek frons. Yl hy? Of praat hy in sy slaap?

“Het jy dit al gesien, Mieke? Wanneer dit reën terwyl die son skyn? Dis wanneer wolf huil. Want Jakkals het sy vrou gesteel.”

Nee, hy praat nie in sy slaap nie. Hy weet dit is ek. Wat hy sê maak egter glad nie sin nie. Ek en raaisels is nou maar eenmaal nie maaitjies nie. En hy wéét dit.

Ek gee nog ʼn tree nader. Hy weet nou ek is hier, so ek hoef nie meer voor te gee nie. Ek vat sy drip vas, voel-voel met my vingers na die pypie wat na sy are toe loop. Ek het dit. Nou moet ek net nie my vinger raak steek nie. Hel, dan land ek ook dalk in die graf!

“Wie sê wolf is die bad guy?” vra hy weer.

Hy steek sy hand na my toe uit. Asof hy by my pleit. Ek blaas my asem stadig uit. Ek het te ver gekom om nou om te draai. Om nou uit te chicken.

“Gouelokkies was maar net voorbarig. Doringrosie was ʼn pyn.”

Ek wil lag. Ek sweer hierdie ouman yl. Om op sy jare nog aan sprokies te dink is verregaande!

Ek laat sak die spuitnaald tot langs my sy, draai weer na hom. Iets kriewel in my maag. Dêmmit! Ek kan nie nou koue voete kry nie!

Hy begin weer roggelend hoes. Ek verstyf. Hy is regtig siek, al sê Mandy hy sit aan. James het ook gelag, gesê dis sy verdiende loon. Ek gee ʼn tree nader aan die bed, gaan dan weer staan. Sy vel lyk deurskynend in die effense lig wat by die saal inkom. Ek kry hom skielik jammer. Sy oë lyk angstig, so asof hy… asof hy…

Ek gil gesmoord toe hy met sterk vingers my voorarm vasgryp. My hart ruk. Benoud klop dit teen my borsbeen. Ek probeer my arm uit sy greep kry. Hy is nogal sterk vir ʼn ou toppie. Paniek druk my keel toe. Die spuitnaald beland êrens op die vloer. Dêmmit!

“Mieke!” kreun hy gesmoord. “In… laai… By Psalm honderd… een… en twintig. Brief. Vat… Veilig bly.” Hy hyg na asem, sy oë is wild van paniek.

Ek skud my kop. Bybel? Wat maak hy met ʼn Bybel?

“Gou… Mieke! Hulle… kom… vir…”

Die drukking om my arm verslap. Ek gaan effens nader, voel koorsig. “Waarvoor kom hulle, Pa?”

Hy antwoord my nie.

“Wie is hulle, Pa? Pa!”

Hy is nou stil. Doodstil. Selfs sy asemhaling is dood.

Vinnig pluk ek die laaitjie oop, vat die enigste blou Bybeltjie daarin raak. Angstig blaai ek na Psalm 121. Dadelik val ʼn ou vergeelde koevert in my hand. En ʼn klein mikroskyfie. Vir ʼn kamera?

Ek lig my oë op na die berge. Waar sal my hulp vandaan kom? My hulp kom van die Here wat hemel en aarde gemaak het…

Ek klap die boekie toe, druk dit vinnig terug in die laai. Die koevert en mikroskyfie verdwyn in my jas se sak. Nou vir die spuitnaald. Ek kan dit nie hier los nie. Netnou kry hulle hom in die middel van die nag, en dan is my vingerafdrukke oral op die naald.

Ek sak af op my hurke, voel-voel met my vingers op die vloer. ʼn Sug van verligting spoel deur my toe ek die koue spuitnaald raakvat. Ek kom regop, kyk vir oulaas nog na hom. Dan draai ek weg. Vir die laaste keer.

Met haastige tree stap ek weer met die gang af. Dis nog steeds donker, maar daar is ʼn haastigheid in my. Ek moet hier uit. Dit voel asof iets aan my hakke byt. Ek druk my hande in my sakke, vat die koevert en mikroskyfie vas. Styf druk ek my hande teen my lyf, loop bietjie vinniger.

My asem jaag. Toe die hoofdeure oopskuif, voel ek die ysige vingers teen my wange afstreel. Vir ʼn oomblik is ek my asem kwyt. Dan begin ek draf. Dit voel asof honderde oë my dophou, my volg. Ek loer oor my skouer. Daar is niks. Net die donker skaduwees wat my tart, wat my koggel en uitdaag.

Ek’s by my kar. Waar is my sleutels? Dit was in my sak…

Iemand is by my. Ek kan dit voel. My hande verstil, stadig lig ek my kop. Ek is omring. Omsingel deur jakkalskoppe. Ek trek my asem skerp in, draai om. Daar is geen uitkomkans nie. Die een jakkals knik sy kop. Ek word vasgegryp, van my voete afgelig.

Ek gil. Dadelik vou ʼn gehandskoende hand oor my mond. Ek begin skop. Paniekerig wriemel ek my lyf. Waddehel het ek gedoen? Wie is hierdie… mense? Wat… wil hulle hê?

My voete word vasgevat. Nou hang ek in die lug, tussen twee jakkalskoppe wat my pynlik styf vashou. Ek begin hiperventileer. My asemhaling is  vlak. My vel is koorsig van die angs. Wat gaan hulle met my maak?

Sonder meer word ek agter op ʼn bakkie gegooi. My wind is uit. Ek kreun, krul myself in ʼn bondeltjie. Dadelik begin die bakkie se kragtige enjins grom. Klippe spat toe ons met ʼn spoed wegtrek. Die malle jaagtog begin. Ek val rond agter op die bakkie, maar word nie toegelaat om regop te kom nie.

Ons is nie meer in die stad nie. Dis te stil. Die luggie te geniepsig. Dit is volmaan, sien ek toe ons stilhou. Ek ruk my asem in toe hulle my oppluk en van die bakkie afgooi. Pyn skiet deur my lyf, laat my skerp na asem snak. My wang brand. My lyf klop van ʼn vrees wat ek nog nooit ervaar het nie.

“Bring haar.”

Dis ʼn vrou. Vreemd. Wie sal nou dink dat ʼn vrou so iets kan doen? En wat soek sy in elk geval? Wat wil sy met my hê?

My voete word weer vasgevat. My hande ook. Hoe meer ek stoei, hoe vinniger loop die twee. Ons is in die bos. Die bome sluk die enkele bietjie maanlig heeltemal in, laat donker skaduwees om my dans. Dieper en dieper vat hulle my die donkerte in.

“Wat wil julle hê?” vra ek.

Stilte.

Ek word weer neergegooi. Hel, maar dit was seer. Ek rol weer tot op my sy, probeer my asem terug kry.

“Waar is dit?”

Ek knyp my oë styf toe, toe iemand ʼn flitslig in my gesig skyn. “Ek weet nie waarvan jy praat nie.”

“Jy lieg!”

Ek draai my gesig weg. Die lig is te skerp, En die vrou is histeries!

“Haal af jou masker. Miskien praat sy dan.”

Hierdie stem klink nou baie bekend. Waar het ek dit gehoor? Dink!

ʼn Jakkalskop beland langs my voete. Verskrik kyk ek daarna, dan weer na die vrou. Sy het ligte hare. Is sy nou Gouelokkies? Sy lyk vaagweg bekend.

“Sê haar wat jy wil hê?” karring die ander stem weer.

Nog n jakkalskop beland langs my voete. En hier is Doringrosie. Ag hemel, Pa! Wat beteken dit tog?

“Ek soek die mikroskyfie,” praat Gouelokkies weer, staan hande in haar heupe op my en afkyk. Die bekendheid van haar stem laat my ruk.

“Ek het dit nie,” lieg ek, kruip stywer teen die boomstam vas.

ʼn Kalmte neem van my besit. Met een beweging stoot ek die pyn uit my kop, fokus op die twee vroue. Wat het Pa nou weer gesê? Wie het gesê die wolf is die bad guy?

“Dink jy die Wolf het dit vir haar gegee?” Weer Doringrosie.

“Hy moes. Na die inspuiting sou hy nie meer lank geleef het nie. Hoe het jy geweet sy is oppad na hom toe?”

My hart ruk ʼn oomblik tot stilstand. Hulle was voor my by hom. Pa is Wolf? Ek verstaan nie. Hy het gesê die Wolf is nié die bad guy nie. Nou wie is?

“Jakkals het gesê sy sou. Hy het haar gestuur. Ons moet die skyfie kry. En daarvan ontslae raak, voordat dit in die verkeerde hande beland. Ek kan nie glo Wolf het my vertrou nie! Die sot!”

Stilte.

“Search haar.”

Die enkele bevel laat my hele lyf verstyf. Iemand pluk my regop, draai my arms pynlik agter my rug vas.

“Nee!” probeer ek keer.

Ek skop iemand raak. Ek hoor hoe hy vloek. Iemand skop my in my maag. Ek val, rol op my sy. My wind is uit. Ek kan nie keer nie, al wil ek. Ek kyk hygend op na hulle. Nee! Nee! Nee! Nee! Hulle het die brief en die mikroskyfie! Deksels!

“Wat het ons hier?” vra Gouelokkies, vou die koevert oop.

“Ou Jack,” lees sy hardop. “Ek het al hoeveel keer vir jou gesê om nie met my te mors nie. Ek weet wat ek doen. Jy nie. Gee vir my wat my toekom, en ek los jou gesin uit. Ek het nou die dag jou lieflike dogtertjie gesien. Mieke. En jou pragtige vrou. Wil jy hulle graag begrawe? Nou gee vir my die sleutelwoorde en die foto’s. Dan los ek jou uit. Groete, jou Ouboet, James.”

Dit maak nie sin nie. Pa het ʼn broer gehad? Hoekom sal Pa so iets vir my wegsteek? Het hy nog al die tyd net voor gegee? En hoekom word hy hier gedreig? Wie is hierdie James? My ma se James? Nee. Dit kan nie wees nie. Hy sal nooit…

“Dankie Vader,” mor Doringrosie weer.

“Jakkals wou dit gehad het. Nou het ons dit. Nou kan hierdie hele klug end kry. Ek gril my dood as ek nog een keer saam met daai ou man moet slaap!”

My hart klop vinniger. Ek moet dink. Dink! Iets is aan die gang. Wat het James hiermee uit te waai? Is hy Jakkals? Hoekom wil hy my Pa dood hê? Sy eie broer?

“Kyk hier,” praat ʼn growwe mansstem bokant my kop.

Ek sien hoe hy die spuitnaald aan Gouelokkies gee. Ek verstyf. Flippit! Nou’s ek in die moeilikheid.

“Ah, so Jack se dogter het toe meer guts as hy gehad? Dat ek nou juis moes trou om hierdie verdomde skyfie te kry!”

My kop werk in die hoogste versnelling. Hemel, maar die vrou se stem klink bekend. James. Jakkals. James is Jakkals. Pa het gesê die Wolf is nie die bad guy nie. Pa is wolf. Hoekom het ek dan altyd gedink… Natuurlik! James! James het met Pa se tweede vrou getrou. Hy was kwaad vir Pa. Hy het my versondig teen Pa. Hy het… gelieg!

“James wou in elk geval van haar ontslae raak. Sy het te veel guts,” praat Gouelokkies met die ander vrou.

“Nee!” wurg ek by my keel uit.

Gouelokkies buk by my. Sy druk-druk aan die naald, ek sien hoe die straaltjie in die maanlig skiet. Nou kan ek haar mooi sien. Mandy? Dis Mandy! Sy wil my dood hê?

Nie so nie! Pa, nie so nie! James, hoekom?

Ek ruk toe sy die naald in my arm druk. Arms gryp my stywer vas. Dan val ek grond toe. Ek bly net so lê. Te bang en geskok om te beweeg.

As Mandy Gouelokkies is, dan is Doringrosie… Nee! Net nie sy nie. Ag Vadertjie tog! Net nie Misha nie.

Dêmmit! Hoe kon ek hulle nie herken nie? Ek het tog die afgelope vier jaar saam met hulle deurgebring? Ek moes nooit weg gegaan het nie. Ek moes nooit op my eie gaan bly het nie. Ek moes nooit ooit geleer het om James te vertrou nie!

Ek hoor hoe my stiefsuster lag. Hulle stap weg. My stiefma en stiefsuster. Los my net daar, te lam om te beweeg. Ek was nog altyd die outsider. Jack se kind. Die soet, voorbeeldige kind. Hoekom het ek dit nooit gesien nie? Pa was nie die bad guy nie! Hy wou my beskerm! Ek, sy enigste kind, wou hy beskerm teen hierdie… mense! En nou…

My bors trek toe. Die gif het sy werk begin doen. Ek probeer beweeg, maar ek kan nie. Ek kan nie my tone voel nie. My bene… Op en op en op. Ek begin stoei. Ek kry nie asem nie! Help!

Wat is op die skyfie?

Toe roep die Jakkals.

A. Gerber. 2010. © Kopiereg Voorbehou.

4 thoughts on “Jakkalsdraai

  1. HI ek hou van die “wie het gese die wolf is die bad guy deel” ek het after all die liedjie geskryf.

    Groete
    Johan Liebenberg

    • Hi, Johan. Dit lyk my ek sal vir jou erkenning moet gee as hierdie een gekies word vir publikasie… Dis juis jou liedjie wat my geinspireer het… Dit het my aan die dink gesit… Jy sal sien ek het nog n paar reëls van die song in die storie gebruik. Hoop nie jy gee om nie…;-)

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Connecting to %s