Die soetheid brand op my tong.
Ek glimlag vir Jill langs my, druk nog ʼn stukkie van die pienk spookasem in my mond. Dis lekker. Hy weet dit is my gunsteling tydverdryf by hierdie soort karnaval. En elke keer kry ek ʼn groot sak vol. Dit voel soos die tyd toe ek en Matthew ook hier was. Maar dit was lank terug. En ek moet dit probeer vergeet. Ek moet aanbeweeg.
“Wat wil jy volgende doen?” vra hy, maar ek kan sien sy blik is ver. Dis asof hy nie op dieselfde planeet is nie. Sy oë soek oor die skares, daarom sien hy nie toe ek my skouers ophaal nie.
Toe hy weer na my kyk, skrik ek. Sy oë lyk snaaks. Koorsig. Anders.
“Ek het met jou gepraat, Sam.”
Ek glimlag verby die bewerigheid in my maag. “En ek het jou geantwoord ook. Jy het net nie na my gekyk nie. Is jy oraait?”
Dadelik ontspan hy sy skouers. Hy glimlag vir my, maar ek kan sien dit is fake. Iets pla hom. Iets krap hom om, soveel so dat ek hom glad nie herken nie. Skielik is hy vir my ʼn vreemdeling.
“Ek’s fine. Kom, ek sien die merry-go-round is besig om te stop. Ek wil daarop gaan. Dit sal lekker wees om die sterre van daar bo af te tel, dink jy nie so nie?”
Nie regtig nie. Ek was nog nooit goed met hoogtes nie. En hy wéét dit.
Hy vat my hand, pluk my agter hom aan. Ek probeer terug rem, maar hy is onwrikbaar. Die sak spookasem druk ek styf teen my lyf vas, druk al die lug daaruit dat dit laterhand soos ʼn stuk toffie in die sak lyk.
Ek sluk swaar toe ons in die tou gaan staan. “Moet ons regtig hierop gaan, Jill? Jy weet ek is bang vir hoogtes?”
Sonder om na my te kyk, antwoord hy. “Ag, komaan, Sam. Steek jou bangheid in jou sak. Ek is mos hier by jou.”
Wel, dit is ʼn eerste. Hy luister gewoonlik na my as ek sê ek is bang. En vandag is ek regtig bang. Ek kan dit in my lyf voel. Ek herken dit. Rillings hardloop teen my ruggraat af, my maag pyn. Selfs my hande is sopnat gesweet.
Ek maak my mond oop om hom te antwoord, maar my mond is so droog, al wat daaruit kom is ʼn verskrikte kwaak. Ek sluk. Hy het verander. Hy is nie meer die man wat ek nege maande gelede ontmoet het nie. Hy is senuweeagtig, emosieloos, koud. En ek is bang.
Die tou raak korter.
“Ag, Here!” bid ek, vou my hande stywer inmekaar. Ek is besig om te hiperventileer. Paniek druk my lugpyp toe. Dit voel asof ek besig is om te smoor.
Ons is nou voor in die tou. Die man wat ons kaartjies vat, kyk my ʼn oomblik op en af. Ek kan sweer hy weet ek is bang. Ek voel ongemaklik toe sy blik ʼn rukkie langer op my gesig huiwer. Hulpsoekend kyk ek na hom, maar hy pers net sy lippe saam, kyk dan anderpad.
Jill stoot my vorentoe. Ek struikel. Hy vang my, net om my weer vorentoe te stoot. Hy is genadeloos. Dis asof die duiwel self hom jaag.
Ek gaan sit in die mandjie, voel hoe dit onmiddellik begin swaai. Die knop wat eers in my maag was, kom lê nou in my keel. Ek sluk-sluk, knyp my oë styf toe teen die trane wat dreig om oor te loop.
Jill kom sit langs my, maar hy raak nie aan my nie. Hy vou sy hande saam, druk dit tussen sy bene vas. Hy kyk stip voor hom. Weer is hy op ʼn ander planeet.
“Jill,” roep ek na hom, maar hy reageer nie. “Jill!” skud ek hom aan sy arm. Hy draai sy kop na my. Nou is ek oortuig daar is iets fout. Sy oë lyk glasig. Hy kyk na my, maar ek weet vir ʼn feit hy sien my nie.
Die groot wiel begin beweeg. Ek byt my lip vas teen die trane wat nou onbeskaamd oor my wange kruip. Dis ʼn nagmerrie. Ek is besig om te droom. Ek gaan nou enige oomblik wakker word, en dan gaan ek lag oor die nagmerrie wat my so op hol het.
My hart klop soos ʼn trom in my binneste. Ek kan dit voel klop, stampend teen my borsbeen. Vinnig. Benoud.
Ons is nou amper bo. Dis koud hier bo in die lug. Pleks ek my baadjie aangetrek het. Ek kyk weer na Jill, sien dat hy steeds net voor hom uit staar.
Dan ruk die wiel tot stilstand. Ek gil gesmoord, gryp na die rand van die mandjie wat nou gevaarlik heen en weer wieg. Jill kry ook ewe skielik lewe. Hy staan op, kyk op my af.
“Jill, wat maak jy?” vra ek met snik in my keel.
Hy skud sy kop. Heen en weer. Heen en weer. Die glasigheid is steeds in sy oë.
“Ek het nie ʼn keuse nie, Sam. Ek moet dit doen. Ek het ʼn fout gemaak.”
My hart ruk tot stilstand. Dit voel asof al die lug uit my gepers is, soos die spookasem wat nou kliphard in my hande lê. “Wa… Waarvan praat jy?” dwing ek die woorde uit my droë keel, klou beangs aan die rand van die mandjie vas.
Hy vee met sy hande oor sy gesig, vou dan sy arms oor sy bors. Hy sluit my uit, stoot my met hierdie enkele beweging van hom af weg. Skielik voel ek stoksielalleen. Alleen in hierdie mandjie tussen hemel en aarde. En ek weet iets is fout. Groot fout.
“Jill?” vra ek weer.
“Onthou jy die ongeluk?”
ʼn Nare vermoede begin in my posvat. Nee! Dit kan nie wees nie. Ek knik, nie seker of ek wil hoor wat hy nou gaan sê nie.
“Ek was kwaad. Vir Matthew. Omdat jy hom bo my gekies het.”
Nou is ek die een wat my kop heen en weer skud. Nee, Here, asseblief. Net nie dit nie.
“Ek het geweet julle gaan daai dag ry. Ek het by sy ma uitgevind.”
ʼn Snik ruk deur my lyf. Dit voel soos gister. Onwillekeurig reik my hand na my wang.
“Ek het met die brieke gepeuter, Sam. Dit was ek. Ek was verantwoordelik vir Matthew se dood!”
“Nee!” gil ek my enigste verweer teen die pyn wat van vooraf van my lyf besit neem. “Nee! Nee! Nee!” Ek kyk na hom, sy gesig verwronge deur my trane. “Hoe kon jy?”
“Ek was lief vir jou. Ek mos van hom ontslae raak. Sam, probeer verstaan!”
Ek kan voel hoe my mond vertrek. “Ek moet verstaan? Dêmmit, Jill! Kyk hoe lyk ek! As dit nie vir daai ongeluk was nie! En bo en behalwe dit, bring jy my op hierdie rit, terwyl jy weet ek het ʼn helse vrees vir hoogtes!”
“Dis al manier hoe ek kon keer dat jy nie weghardloop nie,” fluister hy sag.
Die windjie raak sterker, ruk met koue vingers aan die mandjie. Die trane op my wange is nou ysspore. Ek hoor hoe die mense daar onder op die grond na mekaar roep. Die mense in die ander mandjies raak nou paniekerig. Hulle staan te lank stil.
Dan, asof iemand dit in my oor gefluister het, weet ek vir ʼn feit dat hierdie ook Jill se handewerk is. Hy het gereël dat hierdie wiel gaan stilstaan. Maar hoekom?
Matthew! ween my hart. Warm trane verander dadelik na ys toe die windjie weer oor my wange streel. Ek kan hom nie antwoord nie. Ek kan nie eens na hom kyk nie.
“Ek weet nou dat jy nooit vir my kan lief raak nie, Sam.”
Ek dwing myself om na hom te kyk, sien nou dat sy gesig ook nat is van die trane. Sy ken bewe, al probeer hy hard om dit te onderdruk.
“Ek leef nou al lank met hierdie skuldgevoel, maar ek kan nie meer nie. Dit maak my dood. Ek wou net eers vir jou sê, voor ek…”
Hy draai na die kant van die mandjie, sy rug op my.
“Voor jy wat, Jill?”
Hy knip die deurtjie oop, gee ʼn tree nader aan die rand.
“Jill! Nee!”
Ek moet hom keer, maar my lyf weier om saam te werk. Ek sit soos Lot se vrou na hom en kyk, magteloos om hom te help.
“Vaarwel, Sam,” fluister hy, trap dan hy oor die rand.
Ek gil. Met my hande probeer ek hom terugbring, maar hy is weg.
Ek hoor die slag. Die onmiddellike chaos wat op die grond losbars. Ek kan nie kyk nie. Al wil ek. My lyf is nie my eie nie. Ek sit versteen. Net daar. Tussen hemel en aarde.
“Hoe kon jy, Jill?” weergalm die woorde deur my lyf. “Matthew was my hele lewe.”
Die wiel ruk weer in beweging. Ek weet wat kom, probeer die onvermydelike uitstel. Dit lyk sleg. Ons was saam hier bo. Nou lê hy daar onder. En ek is hier bo. Alleen.
“Here, hoekom? Hoekom ons? Hoekom ek?”
Die polisie wag vir my toe ek onder kom. Ek kyk na hulle, sien die vraende blikke op my, maar skud my kop. Ek kan nie beweeg nie.
“Sy was saam met hom,” hoor ek ʼn stem skuins agter hulle praat.
Ek soek hom. Die man wat met twintig vingers na my wys. Dis die man wat die kaartjies by my gevat het. Ek sluk. O, hel.
“Juffrou, jy word gearresteer vir moord…”
Moord. Moord. Moord. Ek hoor nie ʼn woord verder van wat hy vir my sê nie. Ek kan nie. Daar is ʼn gezoem in my ore, my tong voel lam. Ek kan nie praat nie. Kan nie reageer nie.
Een van die blou mannetjies lig my met gemak uit die mandjie, sit my weer op die grond neer. My bene is jellie. Dadelik sak ek weer in mekaar. Dan sien ek hom. Jill. Iemand trek ʼn wit laken oor sy gesig. My hart ruk. Ek draai my kop weg, my oë droog.
“Hoekom, Jill?”
Iemand pluk my arms agtertoe, skuif yskoue boeie oor my polse. Ek word weer opgeruk, vorentoe gestoot. Vir moord. Moord op Jill Benade. Wat sélf gespring het.
Ek loop verby die glashokkie waar hulle die kaartjies verkoop. Ek steek vas, sien weer die litteken wat oor my oog tot by my kaak strek. Ek sidder. Dit was sy skuld. Hy het dit aan my gedoen. Vir ʼn tweede keer verwoes hy my lewe. Ek… ek haat hom!
Hardhandig word ek vorentoe gestoot. Dan onthou ek skielik. My spookasem lê nog in die mandjie. Vergete.
A. Gerber. 2010. © Kopiereg Voorbehou.