Iets is anders. Ek kan dit voel. Daar is iets… onheiligs in die lug.
“Hmm… Dalk het ek een te veel riller gekyk. My verbeelding hardloop met my weg.”
Ek lag en skud my kop. Ja. Gisteraand se Drag me to hell was een te veel vir my gemoedsrus.
Stadig ry ek deur die verlate strate, sien hoe die blare van die stokou akkerboom warrelend oor die gebreekte pad waai. Ek stop by Murreystraat. Sit my flikkerlig aan. Ek het nog so baie om te doen voor ek en Joshua more op ons vakansie vertrek. Hopelik het hy na my geluister…
Oorkant my stop ʼn swart BMW. Sy ligte is aan. Die vensters is swart getint. Verder is die straat verlate. Dis net ek. En die swart BMW. En die wind wat met lang vingers aan my klein karretjie ruk.
Ek ril en trek die truitjie stywer om my skouers. Die wolke pak dreigend op die horison saam. Net anderkant Platberg flits die eerste blitse.
Ek ruk soos ek skrik toe ʼn akker op my karretjie se dak val. “Ja, Charné. Jy en jou rillermovies gaan nog jou eie ondergang beteken. Of jou eerste hartaanval.”
Vinnig druk ek my kar in eerste en trek weg, voor die neus verby die BMW wat steeds by die stopstraat staan. Steeds kan ek niks sien nie. Hoekom tint mense hulle karvensters so swart?
Nog net twee blokke.
Ek is onrustig. My hart klop twee maal vinniger as gewoonlik. My mond voel droog.
“Tsk.”
Ek sit weer my flikkerlig aan. Dan kyk ek in my truspieëltjie. Ek frons. Wat soek die swart BMW agter my?
Weer skuif ek my kar in ʼn laer rat, draai gemaklik om die straat hoek.
My hart ruk. Daar is nog ʼn swart BMW. Voor. Twee van hulle. Sien ek dinge?
“Kalm bly, Charné. Jy verbeel jou dinge.”
Swaar druppels bars op my voorvenster, maak skewe straatjies op my stowwerige ruit. Nog ʼn blits ruk deur die hemel. Dan die swaar dreuning wat my ore laat tuit.
My selfoon begin lui. Ek tel dit vinnig op, druk dit teen my oor. Dis Joshua. Hy wil seker praat oor die geld. Ek wonder of hy dit al in die hande gekry het? Ek hoop so. Dit was ʼn groot waagstuk om hom af te tip. Hemel, as hulle my gevang het…
“Hallo?”
Stilte.
“Hallo? Is iemand daar?” vra ek weer. My hartklop word swaar.
Swaar asemhaling skuur oor my vel. Dit begin agter my oor. Skuif stuk-stuk oor die res van my lyf af. Rillings teen my ruggraat af laat my sidder.
Ek gil. Gooi die selfoon op die bank neer. Dit val op die vloermatjie. Amper dadelik begin die deuntjie van Owl City se Fireflies weer lui.
My hande bewe. Soveel so dat ek sukkel om die afstandbeheerder vas te vat. My hele lyf gaan aan die ruk. Ek hou stil voor die houthek wat slakstadig oopskuif.
Die swart BMW’s is weg. Sidderend blaas ek my asem uit, leun met my voorkop op my hande. Ek haal diep asem. Een… twee… drie… vier… vyf. Blaas stadig uit.
My selfoon raak stil.
Ek kyk op. Skuif my kar in eerste rat. Rooi druppels val op my voorruit, maak taai strepies tot op die bakwerk. “Waddehel?”
Ek leun effens vorentoe, frons. My deure is gesluit, sien ek dan. Ek sluk droog. BMW’s is steeds weg. Dis net ek.
Iets val op my voorruit. “Nee… Nee… Nee!” Ek skud my kop. Kyk asemloos na die hand wat stadig oor die venster gly. Dis bloed! En ʼn… hand!
Ek gil. My kar ruk vorentoe. “Nee! Nee! Nee!”
My hande is natgesweet. Dit bewe toe ek my kar afskakel, uitspring. Ek hardloop. Laat val my sleutels. My asem jaag, my maag ruk naar. Trane loop onbeheerst oor my wange.
Ek sukkel met die sleutels. Kan nie die sleutelgat sien nie. Weer val my sleutels. Snikke ruk deur my lyf. Paniek laat my swaar asemhaal. Die sleutelgat het geskuif. Ek sweer. Hoekom wil die donnerse sleutel nie in nie!
Donderweer skeur deur die lug. Ek gil. Kry uiteindelik die sleutel in die regte gaatjie. Stamp die deur oop, klap dit weer toe. Vinnig sluit ek die deur. Ek stoot aan die skuifslot, druk die kettingkie in plek. Ek byt my bewende lip vas. Kap my voorkop teen die deur.
“Bedaar! Niks meer rillers vir die volgende vyftien jaar nie.”
Ek hyg na asem. Weer. En weer. Stadig bedaar my hartklop.
“Dis als net jou verbeelding, Charné. Dit is als net ʼn droom.”
Stadig draai ek om. My vingers soek na die ligskakelaar. Met ʼn klik gaan die ligte aan, jaag die spoke weg. Verlig blaas ek my asem uit. Ek glimlag bewerig. Ek kyk hopeloos te veel TV.
Ek gooi my handsak op die toonbank neer. Water. Ek moet water kry. Bewerig stap ek kombuis toe, haal ʼn glas uit die kas. Ek laat die water loop, oor die glas se rand, oor my bewende vingers.
Ek voel kalmer. Dit is als net ʼn droom. Alles lyk normaal. In plek. Soos dit moet wees. Ek stap deur sitkamer toe, sit die ligte aan soos ek verbygaan. Met ʼn sug gaan sit ek op die bank, vee die trane van my wange af. Ek is okei.
My selfoon. Dêmmit! Dis nog in die kar. Daar is nie ʼn manier dat ek nou weer buitentoe gaan nie. Nie vanaand nie.
Ek staan op. Besluiteloos loop ek op en af. Ek byt my duimnael. Eers die swart BMW’s, dan die oproep. Die bloed op my voorruit, die hand… Ek ril. Is dit regtig net my verbeelding?
Ek skop my skoene uit, vryf met my een voet oor my tone. Ek kan sweer ek het Joshua se nommer op my sel gesien. Ek moet hom bel. Sommer nou. Miskien het hy nuus oor die vakansie wat ons beplan.
Die huistelefoon is in my kamer. Ek stap soontoe, sit nog ʼn lig aan. Alles hier lyk ook normaal. Vinnig druk ek sy selfoon nommer in.
Ek wag. Dit lui darem. Twee luie. Hy antwoord nie. Ek frons. Ek kan sweer ek hoor iets anders ook. ʼn Deuntjie. Daai song waaroor Joshua so mal is. Wat’s die naam nou weer? O, ja. Punkrocker. Van Sandi Thom.
Ek verstyf. My hartklop raak swaar, kom lê in my keel. Die gehoorstuk van die telefoon beland langs my op die bed. Die geluid word harder. Dit kom vanuit die badkamer.
Stadig sluip ek nader. My lyf is stokstyf. Dis definitief in die badkamer.
“I wanna be a punkrocker, with flowers in my hair.”
Ek stoot die deur oop. Ek trap in iets taai. Bloed. My maag ruk. Ek is naar. Die deur kap teen die teëls. Ek volg die bloedspoor op die vloer, sluk aan die walging in my keel.
Met een kyk neem ek alles in. Joshua. Oopgesny. Bloed orals. Handlose arm. Sy blou oë nog oop. Ek kan die vrees nog daarin sien. Sy selfoon langs die bad op die vloer. Die boodskap op die spieël.
Hoekom het jy dit gedoen, Charné?
Ek retireer. Ek kan nie ʼn geluid uit kry nie. Ek moet uit. Weg. Nou. Vinnig!
Ek weet nie hoe ek by die deur gekom het nie. My vingers pluk aan die skuifslot, die kettingkie. Die sleutel haak vas.
Ek kreun-huil. Pluk aan die sleutel. Die deur stamp my amper onderstebo. Ek hardloop. Dit reën. Blitse verblind my. Ek’s by my kar. My sleutels. Dis nog in my handsak. Ek draai in die rondte.
Swart BMW’s. Drie van hulle. Ek verstyf, trek my asem skerp in.
Die swart deur gaan oop. ʼn Man klim uit. Geklee in swart. Selfs sy masker is swart. Soos ʼn skim. Ek skud my kop. Kyk vasgenael na die loop van die rewolwer in sy hand.
Hy glimlag vir my. Sy tande glim wit. Sy oë is blou. Soos Joshua sin.
“Jy het gedink jy gaan wegkom hiermee,” skree hy vir my.
Ek weet nie waarvan hy praat nie. Wie is hy? Wat wil hy hê? Hy kom nader. Ek gee ʼn tree agteruit. “Nee!”
Hy lag honend. “Ek weet wat jy gedoen het, Charné. Ek weet lankal.”
“Nee!”
Hy kom nader, streel met die loop van die rewolwer teen my wang af. Dis koud. Ek is nat. My hele lyf ruk.
“Dis jammer. Ek het jou gewaarsku. Hoekom wou jy nie luister nie, Charné?”
“Ek… Nee… Weet… nie….”
My kop staan stil. Ek kyk na hom. Sien die koue oë, die stokkerigheid van sy bewegings. Ek is bang.
“Dis eintlik tragies,” praat hy verder. Hy druk die loop onder my ken vas.
Ek kerm, knyp my oë toe. Ek fluister-bid. “Onse Vader wat in die hemel is…”
“Joshua was stupid. Onnosel. Hoe kon hy! En hoe kon jy? Ek het jou vertrou!” skree die man weer op my.
“Laat U naam geheilig word. Laat U koninkryk kom.”
Koue staal klap teen my kakebeen. Ek proe bloed. ʼn Kopseer ruk deur my skedel.
“Laat U wil geskied. Soos in die hemel. Net so ook op die aarde…”
Ek steier agtertoe. Ek snak na my asem toe die hou my tref. Ek krimp inmekaar. “Gee ons vandag ons daaglikse brood en vergewe ons ons skulde.”
Hy gryp my aan my hare vas. My bors voel koud. Ek kyk af, sien my kaal borste, die bloed wat stadig daaroor kruip.
“Net soos ons ons skuldenaars vergewe. Lei ons… nie in die… versoeking nie.”
Ek sluk. My lyf voel dood. Ek koes vir nog ʼn hou. Ek hyg na asem. Ek sak grond toe. “En… verlos ons van… die bose…”
Die man lag. Dit ruk deur my lyf. Weergalm in my siel.
“As jy maar net geluister het,” fluister hy hier by my, pluk my weer regop.
“Want aan U… behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid… tot in ewigheid…”
Ek kyk op. Die loop is nou teen my voorkop. Ek proe die souttrane op my stukkende lippe. Ek kyk na hom. Sien hoe hy die masker stadig van sy kop af trek.
Matthew. Joshua se Matthew. Die geld. Die géld! Hoe…? Wat…? Waar…?
“Julle het ʼn fout gemaak. Never double cross Matthew Schroeder.”
Daar is ʼn klikgeluid. Hy verstyf sy vinger oor die sneller. Haat. Wraak. Als in sy oë. Sy mond. Sy lyf.
“Amen.”
Swart.
A.Gerber. 2010. © Kopiereg Voorbehou.
Ek is mal hieroor! Sal nog die ander ook lees!
Dankie Kaalvoetinireen! Ek is bly jy hou daarvan…
Dis ERG! maar uitstekend geskryf.
Baie dankie, Anne-Marie.
Ek weet vir ‘n feit dat jy nie die enigste een is wat so voel nie… Baie van my vriende sê dis vreeslik. Daar is egter niks wat ‘n bietjie verbeelding nie kan regkry nie, né? Kom loer gerus weer in.