1. Sterkfonteindam
Ek staar gefassineerd na die kontoere van die koppies wat stil waghou oor die blou dam. Blou. Soos ek voel. En dan is dit nie eens Maandag nie.
Ek sug en rem aan die rand van my hoodie wat te styf om my middel klou. Dit ook nou nog. As dit nie genoeg is dat hulle my hell-en-gone gestuur het na ʼn plekkie in die middel of nowhere nie, tel ek tien kilogram op. Sommer vir niks. Okei. Dis darem ook nie niks nie. Ek eet nie net nie. Ek oorvreet myself. Sommer. Net omdat ek nie anders kan nie. Dit laat my darem ʼn bietjie beter voel.
Ek tel my blikkie Creamsoda op en druk dit onvroulik teen my lippe, vat ʼn groot sluk. My bene is styf en koud. Ek roer hulle effens, ontspan dan weer op die kombers wat ek op my gunsteling klipplaat oop gegooi het. Going nowhere slowly. Net hier op die rand van die Sterkfonteindam. En hoekom ek juis hier rus vir my siel kom soek het, weet die Vader alleen. Die stilte sal jou mal maak. Veral as jy net gewoond is aan die stad se geraas, die rumoer en beweging.
My selfoon se bliep-bliep laat my gesteurd opkyk. Wie soek my nou al weer? Mens sal dink dat hulle my in vrede sal los noudat hulle my sover heen gepos het. Maar nee…
Dis my ma.
Sy wil weet hoe ek voel.
Hoe verduidelik ʼn mens dit? Ek sit op die rand van ʼn dam myself en jammer kry. Sommer. Omdat ek kan. En omdat ek wil.
My vingers speel vinnig oor my twee jaar oue Sony Ericsson se knoppies. Ek’s fine, ma. Julle moet veilig ry. Laat weet my as julle by die huis kom. Lief julle.
My duim huiwer oor die send-knoppie. Vir ʼn oomblik vergeet ek van die selfoon in my hand. Die hemel is so blou. So verskriklik blou teen die goue dofheid van die kranse aan die oorkant van die dam. Dis amper so blou soos die water. Snaaks dat ʼn dam se water so blou is. Gewoonlik is dit so ʼn nare brakbruin kleur. Maar hierdie dam… Ek sweer ek is getoor.
Ek konsentreer weer op die selfoon in my hand, druk dan vinnig die send-knoppie. Laat Ma nou maar dink wat sy wil. Uit my mond gaan sy nie ʼn dooie woord hoor nie. Veral nie oor Charl nie.
Charl. My geliefde Charl. Dié Charl wat al menigte van my vriendinne se harte onder sy vuil voetsole vertrap het. En ongelukkig is ek volgende in die queue. Stupid is nie die woord nie. Eerder domastrant mal. Hoekom sal enige regdenkende meisie met ʼn ou wil uitgaan wat in elke geval boggerôl vir jou voel? Wonder ek self.
My vingers soek na die Kitkat wat my susterskind vir my gestuur het. Ek glimlag. Darem een ligpuntjie in hierdie deurmekaar week. Stadig trek ek die omhulsel weg, breek die eerste vinger af. Met die heerlike lekkerte ʼn paar millimeter van my mond, steek my hand vas. Wat de duiwel maak die twee?
Ek leun bietjie vorentoe, druk die punt van die sjokoladevinger ingedagte in my mond, en kyk met skrefiesoë na hulle. Kan jy nou meer. Twee vatterige verliefdes wat net hier onder my neus kom sit en vry. Het hulle dan geen skaamte nie? Hemel! Nou raak die storie nogal warm ook!
Ek bloos en kyk weg. Uit pure verbouereerdheid druk ek die res van die sjokoladevinger in my mond. En verstik. Ek gaan so hewig aan die hoes dat ek my blikkie Creamsoda omstamp. Vervaard gryp ek daarna. Dankie Vader! Ek het ten minste die helfte van die blikkie van ʼn genadedood gered.
Diep hyg ek na asem, vee die trane van my wange af. Is dit nou van die stik, of van my deurmekaar hart? Definitief van die stik. ʼn Onnosel hart ken nie van huil nie. Dit is soos ʼn steeks donkie. Nee, eerder ʼn stupid donkie. Kap sy kop herhaaldelike kere teen dieselfde muur.
Hoekom ek nou juis so ongelukkig moet wees wat die liefde betref, gaan my verstand te bowe. Dis nie asof ek onaardig lelik is nie. Wel, ék dink darem nie so nie. Die laaste keer toe ek in die spieël gekyk het, het ek nogal goed gelyk. Ja, ek het nou wel ʼn ekstra kilogram of twee om die middel, maar maak dit regtig saak?
My mond trek wrang toe die donkerkopmeisie diep uit haar maag lag. Wanneer laas het ek so gelag? Die tweede sjokoladevinger begin sy tog na my mond. Ek sug. Ek gaan nie vandag terug huis toe, voordat ek hierdie deurmekaargeit uit my gestel gekry het nie. Ek moet. My werk is belangrik. As ek met hierdie gemoed moet gaan werk, kry my baas sweerlik ʼn oorval. Hy wonder al klaar wat fout is met my. Ten minste het hy nog nie kommentaar gelewer oor die gewig wat ek so vinnig en so maklik aangesit het nie. En as hy weet wat goed is vir hom, bly hy eerder doodstil.
Die tweetjies het besluit om eerder te loop. Dit wys jou. Wishfull thinking help so nou en dan. Veral as jy hulle met elke vesel in jou liggaam verwens. Wie wil nou herinner word aan die lekkerte van saamwees? Veral as jy self nie so seker is van hoe lekker dit kan wees nie. Definitief nie ek nie. Laat hulle eerder loop. Voordat ek hulle aankla van onsedelikheid in die openbaar.
Stilte. Vredige stilte. Ek hoor dit nie net nie. Ek voel dit. Ruik dit. Ervaar dit. Dit het nogal ʼn kalmerende effek, weet jy? Veral met die ligte briesie wat met lang vingers deur jou hare kam, die son wat troossoene op jou wange druk, en die grou natuur wat saam met jou gemoed neurie. Ek hoor hoe die water teen die rand van die dam vas klots. Ek maak my oë toe, haal diep asem. Dalk moet ek probeer mediteer. Na ʼn lang gestoei om my bene in die regte posisie te koek, gee ek moed op, die nuutgevonde rus en vrede na die maan. Dit kry ek nou van te veel Kitkat eet en te min oefening. My bene kan nie meer beweeg soos ek hulle wil beweeg nie. Niks fout met hulle nie, medies gesproke bygesê. Net jammer die vet en selluliet maak dit vir my bene onmoontlik om soos ʼn koeksister te vou.
Wat ʼn manier om jou bui te versuur. Sonder meer gryp ek na die derde sjokoladevinger. If you can’t beat them, join them. Lusteloos byt ek ʼn kwart van die lekkerte af, kou skielik langtand daaraan. As my ekstra gewig nie genoeg is om my depressief te maak nie, is my uitgewer se nuutste verslag voldoende. Ek snork, byt nog ʼn stukkie van die sjokolade vinger af.
As een persoon nog vir my sê ek het nie genoeg lewenservaring om te skryf nie, gaan ek ʼn gasket blaas. Wie het gesê ʼn twee en twintigjarige meisie het nie lewenservaring nie? Hierdie Port Elizabeth girl het al nare dinge beleef die afgelope twee jaar. Eers word ek uit my glasboksie geboender en herplant in die stad met die hoogste crime rate in Suid Afrika. Alleen. Sonder mammie en pappie wat kan help en raad gee en troos. Ek moes self regkom, self my dinge agtermekaar kry. Daar het ek geleer hoe wreed mense kan wees. Hoe ongevoelig en selfsugtig die mensdom in geheel is. En, net toe ek begin gewoond raak aan hierdie nuwe leefwyse, word ek mooitjies ingelig ek trek weer. Hierdie keer na ʼn klein dorpie waar dit heluit koud word en waar almal jou ken. En natuurlik gaan jou social life dit nie hier oorleef nie. Nee, wat. Ek het lewenservaring. Dalk nie in die tipe klas wat my uitgewer wil hê nie, maar nogtans.
Daar is skielik ʼn gebrom in my ore. Ek kyk op, soek na die voorwerp wat die gemoedelike stilte kom versteur. Dan sien ek dit. ʼn Larny motorboot kom oor die blou dieptes aangejaag, versteur so die rustige vloei van die dam. Ek is sommer lus en kla hulle aan vir rusverstoring. Die dam is so blerrie groot, nou moet hulle hier voor my kom staan geraas maak. En ek wil dink. Ek moet dink. Ek moet antwoorde kry voordat ek vandag huis toe gaan. Al bly ek ook die res van die dag hier…
Okei. Dit gaan nie so lekker werk nie. Ek is nou wel nie meer in Gauteng nie, maar mens kan nooit te versigtig wees nie. Ek het nou die ander dag gehoor dat twee toeriste net hier by die Sterkfonteindam uit die lewe gehelp is. My ma sê altyd, wat jy vrees sal jou oorkom. Dis nou nie dat ek bang is nie. Nee. Ek is maar net versigtig. Ek het nog te baie om voor te leef.
Die motorboot se gebrom raak stil. So ook die gedagtes in my kop. Vir lang oomblik kyk ek na die skuimspoor wat die motorboot agtergelaat het, sien hoe dit stelselmatig weer in die blou dieptes wegsmelt. Ek hoor die veldvoëls se getjirrie-tjirrie in my ore, die gezoem van die bye wat my verspilde Creamsoda kom ondersoek. Vrede. Dis wat ek wil hê. In my hart, my kop en my gemoed.
Ek gaan lê op my rug met my hande onder my kop saamgevou. Dis ʼn wolklose dag. Al is dit in die hartjie van die Winter. Nie te koud nie, nie te warm nie. Al weet ek ook by voorbaat dat ek teen vyfuur ʼn ander deuntjie gaan sing. Saam met die son wat sak, vou ʼn koue kombers ook oor hierdie geweste. En vries alles en almal wat nie respek het vir my ysige vingers nie. Myself inkluis. Nou kyk, as ʼn PE girl is ek nie gewoond aan hierdie klas koue nie. Hierdie plek se maksimum in die Winter, is PE se minimum in dieselfde periode. Hier dra jy lae op lae klere, met boots tot onder jou knieë en ʼn beany op jou kop. In PE, kan jy darem net ʼn langmou ding aantrek en gaan leef. Nie hier nie. Glad nie.
Ek dink ek het ʼn vakansie nodig. As ek nie ʼn cashflow problem gehad het nie, het ek regtig nou in my kar geklim en in Durban gaan ontspan. Maar my beursie is leeg. Letterlik en figuurlik gesproke. Ek wonder hoe ek die res van die maand gaan haal. My een vriend het nou die dag vir my gesê, You know you have a problem when you have more month left after your money. En dis waar. Presies soos dit nou ook met my is. Dis nog nie eens die tiende van die maand nie, en my beursie lag al klaar oopbek vir my. Dit raak nou ʼn gewoonte. Maar hoe kan ek anders as ek ʼn nuwe plek moet opsit. En van die prepaid krag wil ek nie eens praat nie.
Partykeer wens ek ek was nog ʼn kind. Veilig en geborge in my ouers se huis. Sonder die mislikheid van die wrede werklikheid, die ontnugtering van die onskuldige jongmeisie hart wanneer sy agterkom mense is nie soos hulle in storieboeke weerspieël word nie. Daar is nie ʼn perfekte held wat weet presies wat die heldin nodig het nie. Verhoudings is nie perfek nie. Liefde is nie perfek nie. Dis gee en neem. Opoffering. Uitputtend. Dié dat ek nie my heldin as perfek in my manuskrip wil voorgee nie. Daarom ook dat my uitgewer my oor die vingers tik. Hulle heldin is perfek. Sonder vet en bad hairdays en kalenderkoors.
Ek vou my vingers oor my oë, loer deur die skrefies daarvan na die blou hemel. Ja, ek weet ek is ʼn sad case. Seriously sad. Ek het so baie om voor te leef. Tog voel ek soos ʼn verkleurmannetjie op ʼn Smartieboks. Eendag. Dalk sal ek eendag verstaan hoekom alles nou net in rukke en stote na my kant toe aanrol. Hoekom dit voel asof ek gaan verdrink. Asof my lewe op sy kop gegooi is. Dalk eendag. Eendag sal ek Mister Right ontmoet. Met sy lang lyf, donker hare en ligte oë, sy betowerende glimlag en warmte in sy blik. Perfek sal hy nie wees nie. Nee. Hy sal ʼn mens wees. Met sy eie nukke en grille. Net soos ek. En ons sal pas. Pas soos twee mense wat voor die bestaan van die wêreld saamgegooi is as een.
Maar vir nou… Nou moet ek myself regruk en huis toe gaan. Die son is besig om gate uit my gesig te brand. Ek voel dit. Dit kan ek ook darem nie bekostig nie. Dit is tyd vir my plan van aksie. Mission G.A.L. Mission Get a Life…
A.Gerber. 2010. © Kopiereg Voorbehou
ek weti wat jo uitgewer se probleem isie, ma d stuk ruk…salit like as dit gebryk kon word v voorgeskrewe stuk op skool
Dankie, Sylvia… Ek geniet regtig om hierdie stuk te skryf. Dis soos ‘n stukkie van myself…
Dit is sowaar werd vir publikasie, ek stem dat dit as geskrewe stuk vir hoerskool.
Baie dankie vir jou terugvoering, Hendrehn. Ek is bly jy het die stukkie geniet en ek glo ek sal dit eendag nog voorle vir publikasie. Mooi bly!