- ʼn Blou Maandag:
My selfoon begin my uitlag. Vader van Genade! Is dit al sulke tyd? Ek het dan skaars twee ure terug gaan slaap en nou’s dit al weer tyd vir opstaan.
Ek kreun en druk die snooze knoppie. Nege minute. Nege minute het ek oor om nog ʼn bietjie slaap in te kry. En dis blerrie koud. Ek vou my drie-laag bedekking stywer om my lyf, druk my koue neuspunt ook onder die kombers in. Ek is honger. My maag se gegrom laat my die komberse afgooi en stadig regop kom.
Kwart voor sewe. Op ʼn Maandagoggend. En ek is honger. Kan jy dit aan iemand oorvertel? Dis actually lagwekkend. Dis nie asof ek gisteraand nie geëet het nie. Inteendeel. Ek sug en vou my arms om my middel. Ek kan sweer daar is ʼn ekstra rolletjie om my maag. Dit kan dalk voordelig wees om vir ʼn week of twee op te hou eet. Hmm…
Dadelik vee ek die gedagte soos ʼn lastige vlieg weg. Dit gaan nie werk nie. My maag sal my binnegoed vanself begin opeet as ek nie self eet nie. Toe my selfoon my weer begin uitlag, vererg ek my bloedig.
“Okei, okei! Ek is op!”
Ek druk die koue selfoon dood en staan op. Dadelik soek ek na my pantoffels. Ek weet hoe koud die teelvloere hierdie tyd van die oggend is. Met slepende voete stap ek deur toe, steek dan vas toe ek by die spieël verby loop. Genade! Geen wonder ek is nog ʼn singleton nie! Watse regdenkende man sal met hierdie gesig wil wakker word elke oggend? Pienk en blou PJ’s, swart slippers, my hare wat woes om my kop staan. En natuurlik my oningekleurde gesiggie. Met my vingers trek ek aan die vel langs my oë. Ek is nog te jonk vir plooie, maar wraggies… Dit lyk my ek word oud voor my tyd. Ek knyp-knyp my wange, sien hoe die kleur stadig na my wange toe terug keer. Daarsy. Dit lyk beter. Ek glimlag vir my spieëlbeeld, maak ʼn verspotte buiging. Goeie more, Maandag!
Daar is my bui nou in sy glorie in. Eers groet my haardroër, toe is die melk suur en toe sien ek my kar se wiel is pap. Dit alles in ʼn kwessie van een uur. En ek is sommer net gatvol. Gatvol vir hierdie plek, gatvol vir hierdie weer en gatvol vir hierdie situasie waarin ek myself bevind. Meeste van alles, is ek gatvol vir myself.
Blou Maandag.
Dis wat hulle hierdie gevoel noem. En weet jy, daar is selfs ʼn wetenskaplike formule om presies uit te werk op watter dag hierdie befaamde Blou Maandag nou eintlik val. As ek hulle kan glo, is hierdie goor en miserable dag somewhere in Januarie. Net jammer ons sit smack bam in die middel van Junie. En dis koud en nat en mislik buite.
Nou hier is ek, twintig minute voor nege op ʼn baie blou Maandag, en ek is laat. Vrek laat. Al bly ek net vyf minute van die fabriek af. Harriston is so ʼn klein dorpie dat dit skaars ʼn spikkel is op die kwartbladsy kaart van Suid Afrika. Hier gaan absoluut niks aan nie. Hier is geen verkeer nie, geen platneusies wat by robotte staan en bedel nie, geen robotte nie… Behalwe ʼn paar winkeltjies wat so nou en dan oopmaak, is hier niks. Nie ʼn fliek nie, nie ʼn Edgars nie, ook nie ʼn Dulce Café nie. Kyk, ek is vreeslik lief vir roomys. Troosroomys. Veral die fudge choc chip. Maar in hierdie plek, gaan jy eerder hoenders met tande kry, voor jy ʼn Dulce Café kry.
Haastig soek ek parkering. Dêmmit. Dit kom nou van laat wees. Hier is nie ʼn enkele gaaitjie meer vir my oor nie. Nou ja. So is dit met die noodlot. Ek sweer dit het in die vorm van ʼn vlieg op die muur aan my verskyn. Die dat ek op die verste punt moet parkeer en die verste moet loop. Ag wel, so kry ek bietjie oefening in. Die hemel weet, ek het dit nodig.
“Sawubona!” groet ek die sekuriteitsmannetjie by die hoofingang van die fabriek waar ek nou werk. Hy knik net en vat my handsak met hongerige vingertjies vas. Nie dat hy enigsins iets daarin sal vind nie. Inteendeel. Behalwe ʼn paar gebruikte tissues, ʼn amper-klaar-lip-ice buisie, my beursie met meer plastiek daarin as kontant, en ʼn paar ander onbenullighede, is daar niks van veel waarde nie.
My die rolhek steek ek vas. Ek soek-soek na my toegangskaart met die aaklige foto van my daarop wat hulle twee jaar gelede van my geneem het. My skouers sak amper tot by my knieë soos ek sug. Ek het dit wragtig by die huis vergeet. Hemel, Esmerelda! Kan jy ook niks reg doen nie? Net more vergeet jy jouself by die huis!
Iemand agter my maak keelskoon en ek swaai om. Dan moet ek my kop ver agteroor knak om in hierdie Goliat se gesig te kyk. Geamuseerdheid verlig sy gesig. En hy lag vir my. Hy lag waaragtig vir my!
Ek ruk my op en stamp hom uit my pad, gaan loer weer by die venster in waar die groen sekuriteitsmannetjie met opgeligde wenkbroue na my kyk.
“Access card, please,” vra ek met my mooiste glimlag.
Hy klik sy tong vir my en skud sy kop. Dan, voordat ek hom behoorlik die leviete kan voorlees, draai hy om en gaan haal ʼn plastiekkaart van die rak teen die muur af.
“Thank you very much,” sê ek toe met die sarkasme soos heuning in my stem. As hy wil dwars wees, kan ek ook. Die vermetelheid! Ek is al amper twee maande hier en steeds kyk hy my aan asof die kat my hier ingedra het.
Ek stamp die rolhek oop. Te hard. Met ʼn hik stamp die hek my van agteraf vorentoe. Nou is ek boos. So boos ek kan ʼn hele paar safety boots by myself opeet. Gepraat van opeet, het jy al gewonder hoe eet mens ʼn olifant op? Happie vir happie. En hoe gaan ek hierdie Blou Maandag oorleef? Stukkie vir stukkie!
Ek het ʼn break nodig. ʼn Serious break. Verkieslik een met ʼn groot stuk sjokolade koek en ʼn romerige cappuccino. Saam met Ronel. My boesemvriendin wat presies weet wat ek nodig het, nog voor ek daarvoor vra.
Ek soek na my selfoon in die laai. Ek het amper daarvan vergeet, met al die woelighede van die oggend. Eers was ek behoorlik geroskam oor ek laat is, toe tref ʼn hele string emails van hoofkantoor my. Hulle wonder wat het van my verslag geword. Twee weke overdue. Dis egter onmoontlik. Die vyfde is eers oormore. Of so het ek gedink. Hoe kan twee weke so vinnig verbyvlieg dat ek nie eens daarvan bewus is nie?
Ek sug en tik vinnig ʼn sms.
Vriendn, I nd sum TLC. Wat vn koffi bd huis? Ht j koek? I’m in a serious nd of a sugar rush! Help!
Send. Ek voel sommer klaar beter. Nou moet ek net hoop sy werk nie vandag nie. Anders het ek ʼn probleem. ʼn Groot probleem.
Ek kyk op toe iemand by my deur inkom. Ek plak ʼn glimlag op my gesig. ʼn Fake een. Net omdat ek moet. As jy in HR werk, moet jy jou beste voetjie voorsit, of…
“Good morning!” antwoord ek vriendelik, “What can I do for you?”
Die man met die donker vel wat ruik na muffins en koek, kom sit op die enigste blou bank in my kantoor. Hy kyk na my met groot donker oë, sy hande saamgevou op sy skoot.
“Garnishee order,” sê hy met ʼn verleë glimlag om sy mond. “Need help.”
Ek sug en vra vir sy personeelkaart. Partykeer wonder ek hoekom ek juis hierdie beroep gekies het. Ek kry die mense so verskriklik jammer. En ek kan hulle nie altyd help nie, al wil ek hoe graag. Regtig help. Nie net ʼn oproep maak of ʼn email stuur nie. Maar ek kan nie. Juis omdat hulle dit oor hulself gebring het.
“Let me see,” praat ek meer met myself as met my hulpsoekende besoeker. Ek tik sy nommer vinnig op my sisteem in, wag dat die program sy profiel laai.
“I’ll have to phone Head Office,” sê ek dan uiteindelik, en skryf sy personeelnommer en naam op ʼn klein geel notatjie neer. “Can you come a bit later?”
Hy knik bedees en staan vinnig op, verdwyn weer by die deur uit, so asof hy verlig is dat ek hom wegstuur. Ek wonder wat gaan deur sy kop? Is hy skaam? Of embarrassed?
Net voordat ek egter die telefoon kan optel om Hoof Kantoor te bel, bliep-bliep my selfoon. Dis seker nou Ronel.
Ek sug en voel lus om my selfoon te gooi. Dis nie Ronel nie. Dis Charl.
Mis jou. Wil kom kuier. Wat van vanaand?
Definitief nie. Ek delete die sms, gooi die selfoon terug in my laai. Ek het klaar besluit. Charl is net te… te ingewikkeld vir my. Te emosional. Te losbol. Te… alles. Wat Ronel en Arina en Irma in hom gesien het… Ek weet darem nie.
“Esmerelda, I need your help,” kom my baas se stem klaerig van die kantoor langsaan.
Ek rol my oë en staan lui op. Laat ek maar gaan kyk wat die oubaas hierdie keer wil hê. Ek’s al klaar so diep in die dog box, dis nie eens snaaks nie. Ek kan nie aan sy verkeerde kant ook kom nie. Op hierdie stadium is hy die enigste een wat bly is ek is hier… Letterlik en figuurlik!
Toe my selfoon ʼn uur of later weer bliep-bliep, weet ek verseker dit is hierdie keer Ronel. Ek kan dit voel. Met ʼn tevrede sug maak ek haar sms oop.
Natuurlik! Ek het hoeka choc cake gebak. Ek weet mos watse soettand jy het. Sien jou oor ʼn halfuur.
Ek glimlag by myself. Die dag lyk sommer dadelik beter. Daar is niks wat by ʼn dik sny sjokolade koek, ʼn goeie dosis kafeïne en ʼn close pel kan kom nie. Priceless!
A. Gerber. 2010. © Kopiereg Voorbehou.