Deel 3: Handy Woman

3. Handy Women:

Ek wens hulle het op universiteit ʼn DIY kursus vir girls gehad. Want wragtig! Dat ek nou nog nie weet hoe om ʼn boor te hanteer nie, is skokkend. Ek is darem al ʼn bietjie bedrewe met die skroewedraaier en ʼn hammer, maar andersins is ek maar useless in die huis. Veral met gate boor, blinders opsit en ʼn wasmasjien op koppel.

            Hoe moeilik kan dit wees? Wel, ek het op die harde manier uitgevind. Na ʼn paar onsuksesvolle pogings, tel ek my selfoon op. Laat ek eerder loop hulp soek voordat ek myself verongeluk. Of die nuutgeverfde mure, of my splinternuwe mat. En dit sal groot skade wees.

            “Ronel! I need some help! Het Herman ʼn boor?” vra ek benoud in my vriendin se oor toe sy uiteindelik antwoord.

            Hy het. En ja, hy sal kom help. Teen ʼn prys natuurlik. Sy lag voor sy aflui.

            Koffie. Ek het koffie nodig. Sterk koffie.

            Met ʼn gifsterk brousel staan ek ʼn paar minute later na die chaos om my en kyk. Dis net bokse en papier orals. Getuienis van my onvermoë om wortel te skiet. Glo my, as ek kon, het ek lankal wortel geskiet, maar met ʼn internasionale maatskappy soos die een waarvoor ek werk, staan jy nie ʼn kat se kans nie. As hulle sê spring, vra jy hoe hoog.

                Dis nie dat ek ongelukkig is nie. Inteendeel. Ek geniet my werk, geniet die uitdaging en die plesier om elke dag met mense te werk. Maar ek wens hulle wil nou end kry en my op een plek los. Dit is geriefliker. Vir my. Dalk nie vir hulle nie, maar vir my. Net vir my.

               My selfoon bliep-bliep weer vir my. Nou waar het ek die ding gesit? Ek hoor hom. En ja, dit is ʼn hy. My selfoon is manlik. Dis eintlik heel eenvoudig. Dit is useful om te hê, maar nie noodwendig nodig nie. Partykeer maak dit jou mal, ander kere kry dit stilstuipe. Can’t live with it, can’t live without it. Ja, dis definitief ʼn man.

              Ek spoor my selfoon langs die ketel op. Could’ve figured. My hele lewe draai om die koffiepot deesdae. Nie dat ek sou sê ek is addicted nie, dis net dat ek dalk ʼn bietjie moet briek aandraai. Dis net soos met alkohol… Imagine net. Jy staan voor ʼn groot groep mense, jou hande plegtig voor jou lyf gevou: Hallo, everyone. My name is Esmeralda and I’m a coffeeholic.

               Ek kry lag vir myself en kyk na die sms.

               Dis my ma.

               Al weer.

              Essie, hoe gaan dinge daai kant? Ons mis jou en dink aan jou. Wat maak jy?

              Ek sug en tik vinnig ʼn niksseggende boodskappie terug. Net genoeg om haar tevrede te hê, maar min genoeg om nie eintlik iets te sê nie. Veilig. Soos my lewe maar is. Ek waag nie. Ek probeer nie eens nie. Want sê nou maar… Sê nou maar ek praat te veel. Of sê nou maar ek maak ʼn gek van myself. Sê nou maar dit en sê nou maar dat. Dis om van mal te raak. Ek wens ek kan rigting kry. Regtig rigting kry. Nie beweeg elke keer as die wind dalk te sterk teen my klap nie.

               Die koffie is te sterk. Ek gril en dump die res van die koppie in die wasbak. Wat is daar om te eet? Ek moet iets kry om my mee besig te hou tot Ronel en Herman op daag. En ek is niks lus om bokse uit te pak nie. Dit klink na werk. En daarvan het ek genoeg gehad vandag.

              Ek gryp van my ma se handgebakte koekies, druk die eerste een sommer heel in my mond. Groot fout. Ek kan skaars my mond toekry! Dit kry ek nou van vraatsig wees. Wat is dit met my? Ek pluk ʼn stuk van die koekie uit my mond, kyk in afgryse daarna. Hoe de hel dink jy gaan jy ʼn man vang, Esmeralda, as jy jou elke dag aan soetgoed vergryp?

              Sonder meer plak ek die res van die koekies in my hande terug in die blik. Ek druk die blik so gou terug in die kas, mens kan sweer dit byt.

              Met my hande in my heupe staan ek na die chaos en kyk. Geordende chaos. Ek weet presies waar alles is. Net jammer my vriendinne dink nie so nie. En die housewarming is om die draai. Housewarming in die ware sin van die woord. Hierdie plek het beslis warming nodig. Genade, maar dis koud! En moenie dink die ekstra kilo of twee om my lyf help teen hierdie koue nie. Nee. Ek het dan hoendervleis tot op my voetsole, tussen my hare en in my ore. So koud is dit.

              Koud of te nie, ek bly ʼn Wintermens. Kyk, my filosofie is nou so. As jy in die Winter koud kry, kan jy nog klere aantrek, nog kouse en skoene, ʼn warmwatersak, kombers en heater nadertrek en ontvries met ʼn koppie koffie. In die Somer, is dit egter ʼn ander storie. As jy warm kry, so warm dat jou lyf nie meer onder die klere kan asemhaal nie, kan jy nie begin uittrek nie. O nee, nie met ʼn lyf soos myne nie. In die Somer hou ek so veel as moontlik van my klere aan. Bo en behalwe die ekstra paar kilo’s wat ek probeer wegsteek, trek my spierwit vel die son soos ʼn magneet. En dan lyk ek soos ʼn tamatie. Nee, tamatiesous!

               Hmmm… Nou’s ek honger.

               My deurklokkie lui. Ek sug verlig. Dankie Vader, anders het ek nou regtig weer iets gegryp om te eet. En ek twyfel sterk of dit ʼn selderystokkie of rou wortel sou wees.

               Herman het sy boor gebring. Saam met ʼn hele sak vol sarkasme en onnodige sêgoed. As ek nie so hardup was vir sy hulp nie, het ek darem…

              “Kry ons nie koffie nie, Esmeralda?”

              Dis Ronel. Sy staan langs die ketel wat ek ten minste vanmiddag somewhere in die geordende chaos opgespoor het. Maar sal sy die ding aansit? Nee… Sy staan eerder na my en kyk met ʼn baie onskuldige uitdrukking op haar gesig, die pretliggies heel duidelik in haar oë.

              Ek kners op my tande en sit die ketel aan. Dis nou nadat ek seker gemaak het daar is ten minste bietjie water in. Nou vir die koppies. Twee suiker. Een melk. Een koffie.

             “Al weer iets van Charl gehoor?” vra Ronel weereens die ewe onskuld, vat haar beker tussen haar hande vas.

             Ek draai my rug op haar, probeer die skewe trek om my mond wegsteek. “Nee,” lieg ek, tel Herman se koppie koffie ook op. “Nie dat ek belangstel nie, bygesê,” sê ek in die loop verby haar.

              Ek was nog nooit goed met lieg nie. Ek het net hierdie guilty look. ʼn Look wat sê ek praat mos nou deur my nek. En diegene wat my goed genoeg ken, weet al by voorbaat waarvoor om te kyk as ek skielik begin kluitjies bak. Ek kan nogal baie goed vir myself lieg, moet ek byvoeg. Ek lieg dat ek myself glo. En dit is ʼn gevaarlike storie. Snaaks dat ek myself so ʼn rat voor die oë kan draai, maar nie vir ander mense kan flous nie.

              “Ek hoor jou,” koggel Ronel my hier van agter af, haar stem dik van die lag.

               Ek wil my vir haar vererg, maar hou my in. Nie nou kwaaivriende raak nie. Herman moet eers die gate klaar boor en die blinds op sit.

              “Julle vroumense is darem useless,” brom Herman onderlangs, sukkel met ʼn skroef of twee en sy groot groen monsteragtige boor.

              Ek ignoreer hom, sit sy koppie koffie op die boekrak langs hom neer.

              Ronel gaan sit op die voetenent van my bed, haar oë ondersoekend op my. Ek begin kriewel onder haar blik. Dis asof sy iets weet wat ek nie weet nie. Asof sy kan aanvoel dat ek besig is om myself te bedrieg.

               “Ja, okei!” gee ek uiteindelik in. “Ek stel belang. Ek stel baie belang. Maar dis sinneloos en simpel en stupid en sommer alles. Hy stel nie regtig in my belang nie. Net soos hy ook nie in al die ander girls belang gestel het nie.” Ek sug en draai die koppie tussen my hande rond. “En besides, wat het ek om hom in elk geval te bied. En boonop het hy nog die ego van Mount Everest ook. Hy is net te…”

               “Ek sal julle vroumense ook nooit verstaan nie,” onderbreek Herman wreed my stortvloed woorde.

               Ek kyk op na hom, trek ʼn mond. “Ek het ook nie gevra dat jy my moet verstaan nie. Boor net die dekselse gate en kry klaar. Tannie Sophie van langsaan gaan ʼn aar in haar kop bars as ons so aanhou raas. Sy het hoeka gistermiddag laat weet sy vergiftig enige ding met vier pote wat dit waag om in haar netjiese tuin te kom skrop. Netnou vergiftig sy my ook.”

              “Jy’t nie vier pote nie,” tart hy my verder, “Al kan jy partykeer nogal soos ʼn kat tekere gaan. Ek glo darem nie sy sal jou vergiftig nie. Jy’t al klaar soveel gif in jou, jy kan ʼn hele mensdom daarmee uitwis.”

               Ek hap na lug, kyk hulpsoekend na Ronel, wat haar skouers net onverskillig oplig.

               Is ek dan ʼn gifpot?

               Verontwaardiging laat my die gif proe. En ek is lus en spoeg dit. Dat dit gate in sy broek tot op sy bene brand. Die misbaksel!

              Ek kyk weer na Ronel, waarsku haar met die gif in my oë dat ek kwaad is. Gifkwaad. En sy? Wel, sy kyk my aan asof ek die grootste grap onder die son vertel het, en sy sukkel om nie te lag nie. Jy weet mos, daai kyk op ʼn persoon se gesig wat lyk asof sy wil bars. Die oë is waterig, die glimlag versteek agter stywe lippe, die neus net effens die lig in. Sy word selfs effens rooi op die kiewe.

              En dan lag sy. Dat die koffie oor die rand van haar koffie stort. Sy lag haarself pers in die gesig, soveel so dat ek die koppie vinnig uit haar skuddende hande moet red.

              Ek frons en dadelik onderdruk sy die histeriese gelag, sluk sy die glimlag om haar mond weg.

              “Jy moet erken, dit was nogal snaaks,” proes sy weer, druk haar hand vinnig voor haar mond toe ek haar net vernietigend aankyk.

              Nou kyk, as selfs my vriendin dink ek hoort in ʼn sirkus, dan moet jy weet. Almal lag deesdae vir my. So asof ek aspris probeer om snaaks te wees. En in the mean time, is ek maar net myself. Dink en doen en wees net myself. Ek sal myself nou nie juis as snaaks beskryf nie. Nee, ek dink eerder ek het ʼn droë sin vir humor.

              “Ronel, gee my een van die skroewe aan? En maak gou,” beveel Herman met ʼn harde stem en dadelik staan Ronel op.

              Tipies! Anyway, ek sit sommer nou en dink. Miskien moet ek ʼn storie skryf oor iemand soos ek. Dis nou nadat ek eers ʼn lewe gekry het. ʼn Social life. Om elke dag na werk huis toe te kom en na die dak te staar, is nie my idee van pret nie. Inteendeel. Ek het pret nodig. Avontuur. Iets anders as my daaglikse roetine van werk toe, huis toe, kerk toe, werk toe. Wie wil in elk geval ʼn storie lees van ʼn meisie soos ek sonder ʼn lewe…  Ek moet eers iets exciting doen. Iets anders. En ek weet net waar om te begin…

              “Ronel, wat doen jy more?” vra ek voordat my moed my begewe.

              “Ek het sover nie planne nie, hoekom?” Sy kyk my met skeptiese oë aan. Vir een of ander rede kry ek die idee sy dink ek het onheilige planne.

               Wel, miskien het ek onheilige planne. Mens moet êrens begin, of hoe? Ek glimlag skalks vir haar, loer eers weer na Herman, dan weer terug na haar. “Ons gaan bietjie dans. Ek en jy. En dalk, wie weet, kry ons dalk die man van ons drome…”

              Herman begin onbedaarlik lag. Soveel so dat hy amper van die leertjie afval. Sy bulderende lag verbloem net-net Ronel se senuagtige giggel. En ek? My hart klop so vinnig dat dit voel asof ek ʼn maraton gehardloop het. Waarvoor laat ek myself in? Is dit nie dalk ʼn bietjie te desperate nie?

              Nee. Dis nou of nooit. Ek kan miskien nie ʼn boor hanteer of blinds in sit nie, maar ek weet presies hoe om ʼn man, enige man, uit sy kouse uit te charm. Ek moet net eers begin oefen. Ek weet hoe hulle dit in die Romanzas doen. Maar in realiteit…

              Ek begin nou ook bietjie giggel. Ons almal weet dat daardie tipe stories die versinsels is van menigte vrou se baie ryk verbeelding. Maar daar is iets… iets eg in daardie stories, iets wat my aangryp, iets wat my laat hunker na daardie iets so magical dat mens nie mooi weet hoe om dit te beskryf nie. Dis iets wat jy moet voel, wat jy self moet ervaar. En steeds dan is dit moeilik om in woorde om te sit.

               Hulle noem dit liefde. Of verliefdheid. En skielik besef ek, dit wat ek vir Charl voel, is nie een van die twee nie. Nee, my ego praat harder as my hart. Ek was nog nooit regtig verlief nie. Het nog nooit regtig lief gehad nie. En ek dink dit is nou tyd. Tyd om agter hierdie selfgeboude muur uit te kom en te begin leef. Dan… dalk dan sal ek regtig weet hoe dit voel om te behoort. Aan iemand wat self die blinds kan in sit, sonder dat ek hom hoef te bribe, wat my sal lief hê net soos ek is. Met al my nukke en my grille. Al kan ek nie ʼn boor hanteer om my lewe te red nie.

              “Daarsy! Ek is klaar.”

              Ek ruk uit my gedagtegang, kyk na Herman wat besig is om sy monster boor weg te pak. My koffie is koud.

              “Dan sien ek jou more?” vra ek vir Ronel toe hulle deur se kant toe staan.

              Sy knik net en stoot amper vir Herman by die deur uit.

              Ek glimlag ingenome en druk die deur toe. Nou is ek lus vir chocolate koek.

A. Gerber. 2010. © Kopiereg Voorbehou.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Connecting to %s