Deel 4: Skerp Potlood

4.  Skerp Potlood

Julle moet my asseblief vandag vergewe, maar ek kan nie meer my mond stil hou nie. Hierdie beheptheid met sokker kan ek net nie verstaan nie. Persoonlik weet ek nie eens hoeveel spelers daar in ʼn span is nie. Wat nog gepraat van hoekom hulle doen wat hulle doen. Die enigste gedeelte wat regtig vir my sin maak, is die feit dat hulle een bal tussen die lot van hulle in ʼn net moet kry. Hoe moeilik kan dit tog wees?

           Ek gooi die kookwater oor die polistireen koppie tussen my hande, roer vinnig met die plastieklepeltjie daarin. Als is deesdae fake. Selfs die koffie in hierdie koppie gaan fake proe. Ek weet dit sommer.

            Met die omdraai slag oppad terug na my kantoor toe, stamp iemand per ongeluk aspris aan my. Die kookwater spat oor my hand, en ek moet die vloekwoord wat dreig om oor my lippe te bars met mening terug byt. Ek praat nie so nie. Glad nie. Maar dit is blerrie seer. Selfs my oë traan.

            “Ek’s jammer,” mompel die sondebok en ek verwerdig haar nie eens ʼn kyk nie. Ek weet sommer sy is nou aspris. Sy hou nie regtig van my nie.

            Ek sit die koppie vinnig neer, bekyk dan die skade aan my hand. Bloedrooi en baie seer. Dit brand soos ʼn kooltjie vuur. Dieselfde een wat ook ʼn gat in my gunsteling oortrektop gebrand het. So seer.

            Wrewelrig kyk ek op en betrap haar half spottende blik op my. Laat sy net iets sê, dan keer ek die kokende brousel op haar kop om. Nosey parker! (Vir diegene wat nie weet wat hierdie twee woorde beteken nie, dit verwys na ʼn nuuskierige agie. Vir een of ander rede verkies ek die Engelse weergawe daarvan.)

            Ek vat my koppie effens te vinnig van die toonbank af, verbrand amper my ander hand ook. Tipies! Ek is ʼn gevaar vir myself. Letterlik en figuurlik. Ek sug diep.

            Om nou terug te kom by die sokker. Een van my base maak nou die ander dag ʼn baie interessante opmerking oor die geliefde Bafana Bafana. Hy weet blykbaar presies hoekom het ons span nie deurgedring na die volgende ronde nie. Volgens my mening, weet ek nie regtig wat hulle in die eerste plek daar gesoek het nie. Ja, ek is proudly South African. Maar as ʼn span nie kan speel nie, kan hulle nie speel nie. Punt. Nou, voordat ek myself verdere gramskap op die hals jaag, laat ek eerder vertel wat hierdie baas van my te sê gehad het. Hy het gesê dat consistency, of eerder, die lack thereof, veroorsaak het dat hulle nie die mas kon opkom nie. Eers speel ons gelyk op. Toe verloor ons miserably. Toe wen ons weer so ver, ons kon amper nie glo dis dieselfde span wat ons oor die afgelope paar weke so angstig dopgehou het nie.

            Dit het my laat dink. Consistency. In Afrikaans verwys hulle daarna as bestendigheid.  Standhoudend. Duursaam. Dit is onveranderbaar. Konstant en permanent. Dit verwys na iets stabiel, onvernietigbaar, onwankelbaar…

            Ek snork onvroulik en vat oorhaastig ʼn sluk uit die kokende fake koppie koffie. Ek brand my tong se punt en sit die koppie weer neer, en staar nikssiende na my rekenaarskerm.

Asof daar regtig so iets bestaan. Bestendigheid nogal. Die amper asof dit net in die woordeboek voorkom. Ons weer is alles behalwe bestendig. Verhoudinge nog minder. Selfs jou werk, of die kwaliteit daarvan, is nie altyd bestendig nie. Jou lyf en gedagtes en gemoedstoestand is nie bestendig nie. Dit verander. Amper daagliks. En daar is absoluut niks wat ons normale aardelinge daaraan kan doen nie.

Daar is wel een konstante ding in ons wêreld. Nee, twee. Ons moet taks betaal, en ons ry altyd vinniger as wat ons moet wanneer die spoedkamera se oog vir ons loer. That’s a given. Hmmm… Daar is nog ʼn gegewe. Mense word gebore. Mense gaan dood. Ons kan dit nie keer nie. Dit is deel van ons natuur. Om geliefdes naby aan ons te verloor is verskriklik seer. Maar om daardie eerste skree van ʼn nuutgebore babatjie te hoor, is so ʼn lekker gevoel, jy wil uit jou vel spring. Dis magical. Hierdie klein mensie, perfek met tien klein toontjies en vingertjies, twee minature oortjies, die roosknop mondjie, die…

O, genade! Ek klink nou skoon broeis! En nee, ek het nie planne nie. Daar is nog te veel wat ek in die lewe wil bereik. Ja, ek is verskriklik lief vir hierdie klein woelwatertjies. Vra maar vir my suster. Haar tweede enetjie is oppad, en ek is amper meer opgewonde as sy. Om vir die tweede keer tannie te word, is great!

“Esmerelda! Ons het vergadering,” val my baas oor sy swaar gevormde Afrikaanse woorde. Hy praat nogal goed Afrikaans vir iemand wat in Zulu en Engels groot geword het.

Ek glimlag vir hom en tel my boek, potlood en halfgedrinkte fake koffie op. Laat ek eerder aan die werk kom, voordat my gedagtes my by ʼn krans afgooi!

Jinne, maar hierdie hand brand. En nou’s die boonop so koud ook. Toe ek vanoggend sukkel-sukkel opgestaan het vir werk, het die mis al in ʼn dik laag oor ons klein dorpie gehang. Net soos dit nou steeds die geval is. Mens kan amper die nattigheid op jou wange voel.

            Ek kyk na my hande. My vingerpunte is bloedrooi en pyn van die koue. Dan sien ek ook die rooi brandvlek oor die kant van my hand, tussen my duim en voorvinger oor die palm.

            “I’m in toilet!” skree ʼn vreemde stem uit die kliniek suster se kantoor.

Ek frons. Hoekom los sy die deur oop? Is die vrou dan simpel?

Stadig gaan sit ek met my seer hand soos ʼn geskenk in my ander op my skoot. En ek wag. Nooit as te nimmer gaan ek by daardie deur in as ʼn vreemde kliniek suster haar ding doen nie. Ek het darem ook my waardigheid. My selfrespek.

Ek kyk die kort mollige vroutjie met die donker vel ʼn oomblik huiwerig aan, toe sy uiteindelik uit een van die kleiner kantoortjies uitkom. Dan voel ek weer die branderigheid op my hand. Nee, ek moet. Dis te seer om nou hardegat te trek. Toe staan ek maar op en loop stadig nader.

“Ek het gebrand. Met kookwater,” sê ek onnodig en hou my hand na haar uit.

“Ouwa!”

My point exactly! “Het jy iets om op te sit?” vra ek haar, hou steeds my hand na haar uit. Sy kyk na my hand asof dit haar kan byt. Ek wil my vir haar vererg, maar dan draai sy vinnig om en waggel by die ondersoekkamertjie in.

“Gaan dit help?” vra sy, en hou ʼn bruin pleister na my toe uit.

Ek het ʼn brandwond, nie ʼn snyplek nie, wil ek vir haar sê, maar die blik op haar gesig waarsku my dat ek nie veel meer as ʼn pleister uit haar gaan kry nie.

Ek knik toe maar net, en hou my hand weer na haar toe uit. Ek sal maar self hierdie brandwond moet gaan dokter by die huis. Hopelik help die ou pleister ten minste teen die erge branderigheid wat mens so skielik oorval as jy iets met daardie hand optel.

Dit lyk amper asof sy my die kantoor uitvee, toe sy die pleister haastig op my hand vasplak en my dan deur se kant toe stoot. Die vroutjie is die helfte van my size, sy moenie kom sukkel nie. Sy gaan sleg tweede kom. Voor ek haar egter iets kan toesnou, volg my voete die paadjie outomaties terug na die deur. Nie vandag nie. Ek moet my nie vandag vir iemand vererg nie.

Vanaand is dit girls night! dink ek met ʼn glimlag en vou my seer hand in my ander een toe teen die koue.

Ek kry koud tot in my murg. Die hoendervleis oortrek my hele lyf, van my groottoon, tot op my kopvel. Selfs my tande klap effentjies op mekaar.

            Koffie. Dit gaan nou baie help. Al is dit net ʼn bietjie.

            Ek staan agter my lessenaar op, stap deur my baas se kantoor na die klein hoekie wat veronderstel is om ons klein kombuisie te wees. Ek sien haar eerste. Die nosey parker van vroeër. Die een wat mos my hand so liederlik met haar moedswilligheid gebrand het. Ja, okei. Sy het my net gestamp. Maar indirek is die branderigheid op my hand haar skuld.

            Sy staan saam met ʼn paar ouens van die engineering departement en gesels. So vol selfvertroue soos altyd, lig sy haar ken toe sy my sien nader stap.

            Ek ignoreer haar en buk by die kas om nog ʼn fake koppie uit te haal. Die brandwond op my hand is nog te vars in my geheue om haar met een van my vinnige smiles te beloon. Dis girls night. Ek gaan my nie deur ʼn pes van ʼn vroumens laat onder kry nie.

            “Sy is definitief nie die skerpste potlood in die pakkie nie,” hoor ek een van die ouens hier naby my oor fluister. “Watch bietjie hier.”

            Ek glimlag skeef terwyl ek luister na die gesprek wat agter my plaasvind.

            “Solank jy net nie nee sê vir hierdie oom nie,” hoor ek die ouerige man uiteindelik sê.

            Ek proes amper soos ek lag toe ek die implikasie van die ouer man se woorde amper onmiddellik snap en ʼn snaakse stiltetjie op die groepie neerdaal. Ek gooi die kookwater in die fake koppie oor die koffiepoeier, roer dit met die ewe fake plastieklepeltjie om en om. Dan eers draai ek om, kyk amper vermakerig na nosey parker wat fronsend na lug hap.

            Dis te komies! Toe die besef van die ouer man se woorde uiteindelik tot haar deurdring, gaan daar ʼn liggie in haar gesig aan. Sy klap-klap na sy arm, word bloedrooi in die gesig en sê: “Sies, Oom!”

            Sy is beslis nie die skerpste potlood in die pakkie nie, glimlag ek weer vir die een langs my, wat steeds met daardie stout grin op sy bakkies na haar staan en kyk, en skud my kop. Dit kan nogal pret wees om hierdie gesprek te volg, besluit ek toe, en bly met my rug teen die toonbank staan, die koppie koffie beskermend tussen my hande.

            Nie dat ek soseer die skerpste potlood in hierdie pakkie is nie. Daarvoor moes ek te hard leer op skool. Ek was alles behalwe ʼn genius. Maar ek het darem die kuns vervolmaak om mense te lees. En nosey parker is een van hulle. Wat ek nou lees, is alles behalwe vleiend. Sy is verleë, tog geniet sy die ongevraagde aandag. Partykeer wonder ek of sy haarself nie aspris dom hou nie. Jy weet, soos daardie slim brunette wat hulle hare moedswillig gaan blond kleur, net om ook darem te voel hoe die arme blondies met gevoelvolle sarkasme op die aarde gehou word.

            Die groepie ontbind onmiddellik toe die grootbaas langs ons verbystap. Met ʼn tevrede glimlaggie stap ek weer terug na my kantoor. Dis Vrydag. En dis al amper drie uur. Tyd om huis toe te gaan. Woosa weekend!

Girls night. Ek sien al so lank hierna uit. Net ons vier girls, om ʼn bottel roowyn vir hulle, en ʼn pienk milkshake vir my. Ek drink ook nie. Maar dit pla my nie.

            Ek sit oorkant Millie op die Spur se animalprint banke. En langs my sit die airy fairy in ons midde. En dan is daar ook Ronel. Ons is voltallig. En ek is alweer honger.

            “So, hoe was jou week, Es?” vra Ronel ewe onskuldig waar sy skuins oorkant my sit.

            “Moenie eers vra nie,” begin ek, maar word gelukkig onderbreek deur die kelner wat flikflooiend kom hoor of ons al gereed is om te bestel.

            Ronel gee hom ʼn kyk wat boekdele spreek. “Gee ons nog ʼn rukkie, asseblief,” weerspreek haar mooi woorde die kyk op haar gesig. Diplomaties. Dis wat sy is.

            “Jy wou sê,” vra Millie, alles behalwe onderbreek deur die kelner wat so ontydig langs ons tafel verskyn het.

            Ek byt my lip vas, speel met die strooitjie in die onsmaakvolle milkshake. “Ag, maar die normale,” antwoord ek ontwykend en roer ʼn paar keer met die strooitjie deur die pienkerige melk konkoksie.

            “Ooh! Vertel, vertel!” roep airy fairy skielik opgewonde langs my uit. “Dit kan net ʼn man wees wat jou so laat bloos!”

            Bloos? Ek? Onmoontlik. Ek bloos nie. Al kan ek nie lieg nie.

            Ronel kyk egter met daardie beterweterige glimlaggie na my. “Verkleurmannetjie,” lees ek die onhoorbare woorde op haar lippe.

            Ja. Ek sug. Dis die verkleurmannetjie. En voor daar dalk êrens ʼn misverstand kan opkom, ons praat nie nou van Charl nie. Nee. Die verkleurmannetjie is iemand heeltemal anders. Iemand wat so ongemerk en onverwags homself in my lewe kom tuis maak het. Onmisbaar tuis. Maar dis weer ʼn storie vir ʼn ander dag. Nou moet ek eers iets in hierdie lyf van my kry, voordat ek dalk ook uit hongersnood vir die kelner begin ogies maak.

A Gerber. (2010). © Kopiereg Voorbehou.

2 thoughts on “Deel 4: Skerp Potlood

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Connecting to %s