Deel 5: Stom Woorde

5.      Stom Woorde

Het jy al ooit gewonder hoe mens dit regkry om ʼn hele dag om te gesels? En as jy dan terugkyk, kan jy nie eintlik pinpoint waaroor die gesprek gegaan het nie? Nou ja, dis presies wat die afgelope ruk met my gebeur. As ek eers aan die gesels raak, kan ek net nie ophou nie. Dis asof daar ʼn kraantjie iewers oopgedraai word wat die woorde sonder seremonie of ʼn second thought by my mond laat uit borrel. Dan praat ek my leeg. Soos in heeltemal leeg. Totdat my woorde op raak en ek net rustig sit. Gemaklik. Tevrede.

            Ek weet dat ek nogal far-fetched kan raak as ek die dag lus het. Maar dit is regtig iets waaroor ek wonder. Waar kom die skielike stortvloed woorde vandaan? En waarheen gaan dit? En hoe gebeur dit dat die onverwagse stortvloed net so vinnig weer opdroog? Dis nie asof dit net verdwyn nie? Aan die ander kant, as die hoorder van hierdie wavrag woorde nie die lus of tyd het om te luister nie, gaan jou duur woorde seker maar verlore?

            Iemand tik-tik aan my kombuis venster. Ek skuif my rekenaar eenkant en staan op. Partykeer is ek baie lus en ignoreer die ontydige besoekers aan my voordeur, maar aan die ander kant, kan ek nie juis voorgee ek is nie tuis nie. My blou karretjie staan lewensgroot en baie vuil voor my voordeur.

            Dis tannie Sophie van langsaan.

            “Hallo, Tannie?” sê-vra ek nuuskierig vanagter die veiligheid van my voordeur.

            Ek verkyk my aan die rollers in haar hare wat maar net nie deur die swart beanie weggesteek wil word nie. Sy stoot haar bril oor haar neus, pruil dan met haar rosyntjiemond op ʼn punt. Met haar hande in haar benerige heupe, gooi sy haar kop skuins.

            “Juffroutjie, Oom Hans sê jy moet asseblief jou hek se slot ooplos more oggend. Hy moet ʼn paar goedjies hier by jou kom reg maak.”

            Natuurlik! Oom Hans.

            “Dankie vir die laat weet, Tannie. Sal so maak.” Ek begin die deur stadig toedruk, baie bly ek is nie weer in die moeilikheid nie.

            “Nie so vinnig nie, Esmerelda,” keer sy haastig en staan nader aan die hek. “Hoe gaan dit deesdae met jou? Hoekom lyk dit vir my asof jy gewig opgetel het? Eet jy te veel?”
            Ek snak verontwaardig na asem, maak die deur wyer oop. Ek het nou wel ʼn paar kilogram te veel om die lyf, maar om darem so blatant in my gesig te sê ek het vet geword? Dit sal mos nie gelate aanvaar word nie?

            “Sê tannie dalk ek het vet geword?” Vra ek met my kilste stem moontlik.

            Sy kyk my vir ʼn oomblik stom aan, dan glimlag sy, “Nee, ek vra maar net. Jy moet nou maar jou dag verder geniet, Juffroutjie…” raak sy skielik weer formeel en draai om. Sy loop met stadige oumens treë, tog is daar ʼn effense wip in haar stap. So asof sy sopas ʼn baie interresante brokkie inligting gekry het. Of dalk verlekker sy haar in my ekstra paar kilos terwyl sy stokkiesmaer kan eet net wat sy wil. Ek kyk net vir ʼn stuk sjokolade koek, dan tel ek tien kilogram op!

            Ek sug en druk die deur toe. Dis mense soos sy wat maak dat ek my aan die koekieblik vergryp. Of dalk die reuse boks Smarties wat ek persent gekry het en nou nog nie kon klaar maak nie. Miskien moet ek eerder ʼn appel vat. Ek kyk na die appels wat op die kas staan. Vir een of ander rede bly hierdie appels hier net vir die versiering. As decorations. Dalk ook as skyn – vir diegene wat dink ek is alewig op ʼn dieet. Nie dat ek dit nodig het nie, natuurlik. Ja, my klere klou so nou en dan ʼn bietjie, maar ek is gesond en baie gelukkig. Hoekom moet ek myself verander net omdat ander mense soos krieke deur die lewe gaan?

            Die gekrap in die koskas lewer net ‘n ou pakkie Niknaks op. En ‘n half-geëete pakkie koekies. Dit is miskien ʼn beter idee om die Smarties nader te trek. Of dalk moet ek eerder die appel eet. Ek moet ten minste ʼn balance hou tussen my soettand en my gesonde verstand.Op die oomblik wen my soettand loshande die oorlog teen my gesonde verstand. Veral waar dit mense soos Tannie Sophie aangaan. Mens sal sweer die ouvrou het niks beter om met haar tyd te doen nie.

            Iemand lag kliphard net buitekant my deur. Nuuskierig sluip ek na my kombuisvenster, loer soos ‘n tipiese antie Sophie deur die kantgordyne. Dis Nosey. Dié Nosey Parker wat my nou die ander dag so staan en verbrand het. En sy staan nou en gesels met my verkleurmannetjie. Die… die… slaaikrapper!

            Onwillekeurig voel-voel my vingers na die appel. As ek nie nou iets kou nie, kou ek dalk haar bene. Die vermetelheid!

            In alle regverdigheid is daar nog nie regtig iets tangible tussen my en my verkleurmannetjie nie. Inteendeel. Maar ek het hom steeds as my slaai bestempel. En sy het klaar haar slaai gekies. Vol olywe en sprouts en galbitter grapefruit. Myne is vars en lekker, vol sappige tamaties, komkommer, kraaklekker blaarslaai, en hier en daar ʼn interresante stukkie fetakaas en soet appel. Heerlik! Net reg vir my. Definitief nie vir haar nie.

            Ek hou hom dop toe hy haar groet en vinnig spore maak. Hy kon nie wag om by haar weg te kom nie! Juig my hart! Daar is darem nog hoop. Vir nou, in elk geval. Ek kan mos sien hoe sy hom agterna staar en haar tande vir hom slyp. En as sy dink dat ek my slaai sommer net so op ʼn skinkbord vir haar gaan aanbied, kan sy weer dink. Ek is oud en mooi genoeg om te baklei vir my verkleurmannetjie. Net ek is sy Smartieboks. Nie sy nie!

            Die halfgeëete appel beland netjies langs die ander op die rak. Nog ʼn slegte gewoonte van my. Voel te jammer om die ding weg te gooi, veral omdat ek vir ʼn feit weet dat daar so baie ander is wat niks het om te eet nie. Nie dat ek dit later gaan eet nie. Nee, wat. Wanneer dit eers vol blou hare is met ʼn oumens verplooide skil, stel ek nie meer belang nie. Al waarvoor dit dan goed is, is om Penisilin van te maak.

            Om nou terug te kom by die woorde wat so kwistig deur sommiges gebruik word. Kom ons die einste Nosey Parker as voorbeeld. Praat maklik. Doen te min. Ander mense kan weer baie praat, maar niks sê nie. Ander weer se woorde is so skaars, mens wil amper ʼn pricetag daaraan voeg.  Hoekom is dit so? Het hulle net niks om te sê nie? Of het hulle uiteindelik gesnap wat die geleerde bedoel het met: Silence is golden… so sjarrap and get rich?

            “Hmmmm….”

            Ek begin lusteloos aan my pinkie se nael kou. Om stil te bly is vir my ʼn straf. ʼn Groot straf boonop. Veral wanneer ek brand om iets vir iemand te vertel. ʼn Secret is ʼn secret is ʼn secret. Daarmee stem ek saam. Maar wat as hulle nie vir jou gesê het dis ʼn secret nie? Dan is dit mos nie een nie? Nogtans praat ek nie uit die kar of die kombuis of die kamer of die kantoor uit nie. Nee, dit sal eties inkorrek wees. (En daar kry ek weer ʼn raps oor die liederlike anglisisme… Ai!)

            “En wanneer mens moet praat, dan staan jy met ʼn bek vol tande!” praat ek met die nou swart laptopskerm, druk die spacebar tien keer voordat dit eers weer lewe kry.

            Die Microsoft Word dokument flits oop en ek lees  ʼn paar keer oor die laaste paragraaf van my nuutste riller.

            “Nie te sleg nie, maar iets is nie lekker nie…”

            Weer beland my pinkie in my mond. As ek maar net altyd die goeie idees vir bitsige sêgoed gehad het in die middel van ʼn argument, en nie eers na die tyd nie, sou ek ʼn baie suksesvolle argumenteerder gewees het. Ek kon dubbelgoud in die swaardtong kompetisie gewen het. Maar nee, ek dink eers al die clever reaksies na die tyd uit. Wanneer ek reflect en stoom af blaas omdat ek nog ʼn argument verloor het. In my storie het ek altyd iets terug te sê, maar in die werklikheid?

            Woorde, woorde, woorde. Geskrewe of gesproke. Haai, dit rym!

            Wanneer is woorde stom? Wanneer jy niks meer het om te sê nie? Of wanneer dit wat jy sê niks meer te sê het nie? Silent words. Ek hou daarvan. Stilte. Met net die ʼn bosduiwe wat koer net buitekant my agterdeur. Met niks en niemand wat jou kop deurmekaar kan praat en jou kan laat twyfel in wat jy nou eintlik gesê het nie.

            Ek sit sommer nou en dink.  Hoeveel keer het ek nie al iets vir iemand gesê, net om na die tyd te hoor dat hulle dit heeltemal misinterpret het nie? Scary thought, actually. Hierdie sogenaamde onskuldige woorde wat soos koeëls deur die lug vlieg en jou slaan waar jy dit die minste verwag. Wat jy vir iemand sê, is nie noodwendig dieselfde as dit wat hulle hoor nie. Nee. Hulle hoor net wat hulle wil hoor. Selektiewe gehoor, noem hulle dit.  In plaas van aktiewe gehoor. Dit klink eintlik beter in Engels, dink ek. Selective listening and active listening.

            Bliep bliep!

            Dis ʼn sms. Van my verkleurmannetjie. Ek glimlag bly, skuif my rekenaar eenkant toe.

            Nosey op haar stukke. Wil jou als vertel. Kom oor vir koffie?

            Ek lag hardop, druk vinnig die reply knoppie, laat my vingers oor die knoppies speel.

            Wat maak sy nou weer?Koffie kan lekker wees. Hoe laat?

            Partykeer is dit baie voordeling om blonde te wees. Undercover, natuurlik, maar nogtans. Jy kan jou dom hou en die blame op jou haarkleur. Waarvan praat ek? Wel, ek het my sopas lekker dom gehou en pretend dat ek niks weet van die onderonsie so ʼn rukkie gelede net buitekant my voordeur nie. Dank die Vader hy kon nie my gesig nou sien nie, want dan het hy beslis geweet ek lieg. Of dalk sal my poker face nou lekker werk…

            Bliep bliep!

            Enige tyd. Kom wanneer jy reg is.

            Wanneer ek reg is? Wat bedoel hy nou daarmee? Weereens is daar woorde betrokke. Misleidende, niksseggende woorde, wat jou kan verlei, aflei en koudlei.

            “Mansmense, darem!”

            En dan dink ek ek is met ʼn smartieboks geklap? Nog ʼn ding oor mansmense. Filosofies gesproke, is hulle net op die fisiese ingestel. Hoe werk woorde op hulle? Nie baie goed nie. Wanneer ʼn vrou baie praat, sluit sy ore soos ʼn elektriese kortsluiting af. Onmiddelik. Hulle aandag begin dwaal, hulle kyk ander pad… Ja, ja… Dis ʼn hengse veralgemening, maar dit bly ʼn feit soos ʼn koei.

            Daar is net drie dinge wat ʼn man se aandag kan trek. Een: ʼn Ordentlike cleavage. Twee: ʼn Soen of twee… of drie. En drie: ʼn Stewige bord eetgoed. Nie noodwendig in daardie volgorde nie. Nee, partykeer stel hulle meer in die kos belang as in die geselskap. Ander kere kan jy hulle met ʼn enkele soen van balans afgooi, en dan verder verlei met chocolated-dipped strawberries…

            So van strawberries gepraat. Dis ʼn groot versinsel dat mans nie kan kook nie. Met kook bedoel ek nou ʼn eetbare maaltyd aanmekaar slaan, nie ʼn vyfster gourmet ete wat net deur top sjefs design word nie. Met die regte leiding en ʼn ordentlike resep, kan mens wondere verrig. Nie almal brand toast, maak flou tee en kook blou eiers nie. Nee. Party van hulle kan nogal goed kos maak, al is dit nou net om ʼn braaitjie aanmekaar te slaan en ʼn vleisie of twee te tan. Soos my verkleurmannetjie.

            Sien jou in 10, sms ek terug en maak my laptop toe.

            Hoekom is die lewe altyd so complicated? Hoekom aanvaar mense nie net jou woorde soos jy dit bedoel het nie? Hoekom lees hulle altyd iets anders in jou sms as wat jy bedoel het? Hoekom hoor hulle net wat hulle wil hoor? Hoekom is daar woorde? En hoekom is party van hulle so stil?

Woorde. Seermaakwoorde. Heelmaakwoorde. Dis my keuse, besef ek skielik en staan op, druk my selfoon in my broek se sak. Ek kan my woorde gebruik vir wat ek wil. Vir goed of vir sleg. Die keuse bly myne.

“Nou toe, Meneer Verkleurmannetjie. Laat ek gaan hoor wat jy alles vir my te sê het…” praat ek laggend met my leë woonstel se mure oppad deur toe.

En mag ek nie meer daarin lees as wat jy bedoel nie.

A.Gerber. 2010. © Kopiereg Voorbehou.

2 thoughts on “Deel 5: Stom Woorde

    • Dankie, jong. Ek geniet my blog baie, al kom ek nie so gereeld daarby uit soos ek graag sou wou nie, maar ek probeer ten minste. Hoop jy gaan dit nog baie geniet hier op my blog. :-)

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Connecting to %s