Onthou julle nou die ander dag toe ek en Ronel sou gaan dans het? Wel, dit het toe nooit gebeur nie. Hoekom? Wel, dis eenvoudig. Nommer een: Ek kan nie dans nie. Nommer twee: Sy was amper morsdood siek. So siek dat ek baie bekommerd was en skoon vergeet het van my eie sorge.
Nou nie dat ek soveel sorge het nie. Deesdae is dit smooth sailing vir my. Daar is egter nog net een dingetjie waaraan ek sal moet werk. Oefening. Draf, stap, loop, ry, dans, watookal. Solank ek net aan die beweeg kom. Netnou roes my ledemate van al die water wat ek dag na dag wegsluk, sonder om te beweeg. Dis nou wat Oom Koos my laat verstaan.
Dierbare Oom Koos. So sonder enige pretensie en hooghartigheid. Hy is wat hy is. Take it or leave it. I like you, dont like you. What does it matter? Hulle noem hom die mamba…
“Waaraan sit jy so diep en dink?” vra ʼn kollega van my.
Ek ruk soos ek skrik, loer skuldig na hom waar hy op my blou bank ontspan. In die son nogal. Soos ʼn regte dassie. Al lyk hy allermins soos een. Daarvoor is sy maag te rond en sy hande te groot.
“Ag, sommer aan baie dinge,” antwoord ek ontwykend en kyk weer na my rekenaarskerm. Hopelik kan hy nie gedagtes lees nie, want dan is ek in die sop. Om by die werk te sit en dagdroom, is ʼn big no-no. Hier moet jy op jou voete kan dink, vinnig kan reageer, en gou-gou kan back-chat. Op skool was ons gestraf vir cheekiness. Hier is dit noodsaaklik vir oorlewing!
“Hmmm…” is al antwoord wat ek kry.
Na ʼn rukkie kyk ek ok, betrap sy ondersoekende blik op my. “Wat?” vra ek in my cheekieste (bestaan daar so ʼn woord?) stem.
“Ag, sommer baie dinge,” koggel hy my en vou sy hande oor sy maag saam.
Bou nou ʼn nasie met ʼn kollega soos hierdie…
“Hmmm…” koggel ek hom hierdie keer. Twee kan mos hierdie speletjie speel.
My telefoon lui. Saved by the bell… Of moet ek eerder sê, die telefoon!
“Esmerelda wat praat, goeie more?”
Ek luister ingedagte na die stem van my grootbaas in hoofkantoor, terwyl ek probeer om my kollega se funny faces wat hy op my trek te ignoreer. Laterhand tel ek die pen by my vingers op en kyk na die punt daarvan asof ek dit vir die eerste keer sien. Enige iets, solank ek net nie in my grootbaas se oor ʼn krater van myself maak nie.
“Ek sien,” mompel ek verder in die gehoorstuk, al weet ek nie regtig wat ek veronderstel is om te sien nie.
Later sit ek die telefoon neer. Amper een honderd persent seker ek het niks gehoor of verstaan van wat die vent my vertel het nie. Newermaaind van gesien. Ek kyk op. My kollega lyk asof hy enige oomblik gaan bars van die lag. Sy gesig is rooi en sy lippe is styf opmekaar gepers.
“Lag maar. Elke hond kry sy dag.”
So gepraat van honde. Of eerder katte. Om iemand anders se kat op te pas, is moeilikheid soek. Veral as mens langs ʼn vrou bly wat niks van die dierbare vierpotiges hou nie. Okei. Nie al gediertes op vier pote is oulik nie. Maar Boots is. Die kat Boots. Nie die paar leer boots wat ek so gereeld aan my twee pote dra nie. Het ek nou net gesê pote?
Nevermaaind. Om terug te kom by Boots. Ek moes nou die ander dag ʼn vriend van my se baie oulike, baie nuuskierige kat babysit. Letterlik. Ek het seker gemaak die arme bloedjie het kos en water, met sy sandbak – in my plek en in my vriend se plek. Ek het tot ʼn venster vir hom oopgelos sodat hy kan in kom. En raai-raai, toe ek die eerste aand by die huis kom, is Boots skoonveld. Die swart kat met die wit pootjies vir boots is weg. Missing in action. AWOL. Weg.
Hy is nie in my vriend se plek nie. Ook nie in myne nie. Ook nie in die kompleks nie. Het jy al daardie snaakse gevoel op die krop van jou maag gehad? Ja, daardie gevoel wat jou lae-rug lam maak, jou bene laat bewe en jou mond droog laat? Vat nou daardie gevoel en maal dit met honderd. Selfs dan sal ek nie kan beskryf hoe ek daai dag gevoel het toe ek besef het dat klein, of moet ek eerder sê groot, Boots weg is nie. Ek het behoorlik genip. Op en af stap ek toe in die kompleks rond, al roepende agter ʼn swart kat wat hom doof hou. Of eerder, die kat wat nie gevind wil word nie…
“Earth to Esmeralda!”
Ek sluip stadig uit my gedagtegang, voel dadelik die verlies van die swart wollerigheid in my arms toe die arme kat wel later die aand daar by my aangewals kom. Ek was in my lewe nog nooit so verlig nie.
“Wat?” vra ek weer die enkel woordjie wat my kollega skynbaar so irriteer.
“Jy’s op ʼn ander planeet.”
Op Boots se planeet, ja. Vandat hy hom so tuis in my plek gemaak het, het ek elke aand ʼn slaapmaaitjie. Ten minste slaap ek warm. “Seker maar Venus? Julle sê mos ons vroulike spesie kom daarvandaan af?”
Ek vat ʼn diep sluk uit my sokkerbottel water. Die sokker is lankal verby, maar hierdie enkele aandenking het ek nog. Hoekom? Geen idee nie. Dalk is dit die sponsagtige sokkerballetjie in die middel van die bottel waarop ek al my frustrasie kan uithaal. Soos nou.
Die balletjie word ʼn patty in my hande. Dan spring die sponsagtigheid weer terug tot in sy rondheid. Weer druk ek dit plat. Laat dit weer los.
“Het jy liefdesprobleme?”
Ek proes amper van die lag. Of nee, ek verstik amper. Waarvan praat die dassie nou? Liefdesprobleme? Ek? Watse liefdesprobleme?
“Waarvan praat jy?” vra ek in my onskuldigheid.
“Jy oë blink, jou gedagtes is ver, en daar is hierdie soppy smile op jou gesig. Heeldag.”
“En jy noem dit liefdesprobleme?” smile ek. Mansmense darem!
“Wat noem jy dit dan?”
“Verstrooidheid?” Ek begin giggel. “Dalk verliefheid?”
“So jy is verlief?” sê hy met ʼn baie breë glimlag.
Ek skud net my kop en staan op. “Ek gaan maak eerder koffie.”
Verlief. Wat is dit nou eintlik? Is dit regtig die gevoel waar jy branders hoor breek, klokkies hoor lui? Is daar regtig butterflies in jou maag? Ek weet darem nie so mooi nie. Om verlief te wees is soos… wel, dis soos om ʼn groot geskenk te kry. Die afwagting, die opgewondenheid, die vreugde, en daarna die vergeet. Ja, dis was lekker, maar dis verby…
Jy kry dolverlief. Malverlief en smoorverlief. Dol, mal en smoor. Wat het die drie in gemeen? Niks? Nee, kyk bietjie mooi. Dol is dieselfde as mal. Nee, regtig. Gaan kyk maar in die woordeboek. Dol is ook sinoniem aan begeerte, hoop, verlange. Mal, weer, verwys na dwaasheid, gekheid, sotheid. En dan is daar smoor. Verstik. Versmoor. Moeilik. Noustrop. Nou wat sê dit vir jou?
Kom ek ontpak dit gou vir jou. Eers is dit die dol fase. Die begeerte, die hoop, die verlange. Wat dan stadig oorgaan na die mal fase. Die dwaasheid van verlief wees. Die gekheid daarvan. Jy verander in ʼn sot wat alles glo, alles vertrou. En as jy deur die eerste twee fases geworstel het, lê daar die moeilikste fase voor. Die smoor fase. Die fase waar jy wil verstik, wil versmoor, waar jy noustrop getrek word… Eish! Met ys ja!
My selfoon lui. Dis die liefde van my lewe. Die een op wie ek verlief is. Ja, glo dit of nie. Ek is ook verlief. Tot bo my ore toe verlief.
“Hallooooo!” roep ek opgewonde oor die klein selfoon in my hande. Ek is bly om sy stem te hoor. Om net met hom te praat. Sien jy? Daar kom die dol fase nou in…
“Wat maak jy?” vra hy.
“Ag, niks veel nie…” Duh! Natuurlik doen ek niks nie. As hy my bel doen ek nooit iets nie, al was ek besig om te skryf, te scrap of om te bak. En nou is ons by die mal fase.
“Wil jy kom koffie drink?”
Natuurlik! Hoe dink die mansmens dan? “Dit klink lekker.” Nog steeds die mal fase.
“Oraait. Sien jou in tien.”
Ek groet en druk die foon dood. Vir ʼn oomblik druk ek die selfoon teen my bors vas, byt op my lip. Dan gee ek ʼn opgewonde gilletjie en spring op en af.
Die mal fase is definitief die langste fase in verliefdheid. Dis ʼn feit soos ʼn koei.
Dan vang my oog my beeld in die spieël en ek hou dadelik op spring. Genade! Ek het niks om aan te trek nie! Ek kan nie so gaan nie. Ek lyk taxi!
“Uhm…”
Ek gooi die selfoon op my bed neer, pluk my kasdeur oop. Jeans. ʼn Netjies T-hemp. My hare… O hemel, my hare! Ek het dit gister laas gewas.
Ja, ja, okei. Ek ruk hand uit. Heeltemal. Maar dis wat verliefdheid aan mens doen… Die maak jou mal in jou kop. Tot dit jou begin versmoor.
Wat praat ek nou? Ek hou van verlief wees. Ek speel nou maar net devil’s advocate. Om die van julle wat blind gebore is, se oë oop te maak. Om julle wat nog glo in klokke en branders en butterflies ʼn reality check te gee. My reality check het gebounce. Seriously. Want ek het skielik besef dat verliefdheid in die werklike lewe, heeltemal anders is as die verliefdheid in storieboeke. Dat dit meer moeilikheid in het, as die fantasie wêreld in romanses. Dat als nie net maanskyn en rose is nie.
Sê my nou eers. Wat is lekkerder as om te cuddle voor die TV met ʼn DVD, ʼn groot bak popcorn en smarties? Wat is beter as die trippel piksoentjies elke keer as jy hom sien? Die smile wat jou lyf laat warm word, die reuk van hom, die tekstuur van sy vel onder jou vingers? As jy sy aanraking eers beleef het, is al die moeilikheid, al die hartseer en tande kners die moeite werd. Glo my, ek sal weet.
Wag, laat ek eerder waai. Voordat hy begin wonder wat van my geword het en ʼn search party uitstuur.
Nou kyk, ons vroumense is simpel goed. Ons glo nog in love at first sight. In fairy tales en love stories. Rose. Chocolates en teddy bears. Ons glo nog in romance. Dat elke verhouding gaan eindig voor die kansel. Jy met jou spierwit rok, mooi hare en ingekleurde gesiggie. Tien kilogram ligter as toe julle ontmoet het. Want jy moet darem respectable lyk wanneer jy voor jou familie en vriende die strop om die nek kry.
Die probleem is egter dat ʼn verhouding nie voor die kansel eindig nie. Dan begin dit eers. Dan begin die harde werk, die swoeg en sweet, die geduld en verdraagsaamheid.
Ek kyk af na Boots wat teen my bene kom skuur.
“Hallo, Boots.”
Hy kyk net na my met sy groot grasgroen oë. Ek vryf agter sy ore; voel, eerder as hoor hoe hy teen my begin purrrr…
Verbeel ek my of was Boots in sy vorige lewe ʼn mansmens? Hy kyk te stip, te diep na my. Ek kan sweer die swart wollerigheid wil vir my iets sê… En dan purrrrr hy so dat jou hare omtrent orent staan. So asof hy lekker kry. Hy kan praat ook. Daarvan is ek een honderd persent seker. Hy reageer op elke woord wat ek sê, al is dit nou met verveeldheid. Hy hou daarvan om gestroke te word, om vasgehou en getroetel te word. Maar laat jy hom nou net te lank vas hou, dan laat spaander hy. Tipies mansmens!
Boots se baas en my hart se punt kom sit langs my, trek my ʼn oomblik teen hom vas. Heerlik! Hier voel ek veilig, besef ek skielik, en nestel ʼn oomblik stywer teen hom vas. Hy soen my duskant my slaap, sug dan ʼn tevrede sug.
“Ek’s bly jy’s hier…” sê hy hier by my oor en druk my weer teen sy lyf vas.
Ek ook. Baie bly. Mal of te nie, hier wil ek bly. Styf teen sy lyf, sy hartklop teen myne. Sy hand styf om myne. Dit hoort so. En dan purrr Boots asof sy lewe daarvan afhang. Jaloers, jy sien. Jaloers op dit wat ek en sy baas deel. Verlief? Ja, dit is ek beslis. Gelukkig? Dit ook ja. Hulle sê mos, elke kat… of moet ek sê vrou kry haar dag.
© A.Gerber. 2010.